The buck stops here!
Wanneer ’n mens ’n besigheid begin, doen jy alles self. Jy doen die aankope en die verkope. Jy maak jou hande vuil en sit die produk aanmekaar. Jy ontvang die geld en spandeer dit weer. Dit noem ’n mens ’n eenmansaak.
Soos die besigheid groei, begin jy meer mense aanstel. Mense om te help met die bemarking, aankope en vervaardiging. Mense wat help om die produk by die kliënte uit te kry en administratiewe personeel om te help dat die kantoorsake vlot verloop.
Ewe skielik doen jy glad nie meer wat jy aan die begin gedoen het nie. Jy dra nou netjiese klere en maak nie eintlik meer jou hande vuil nie. Meer kere sit jy met syfers en beplan die toekoms van die besigheid. Ja, en later is jy die personeelbestuurder wat almal se persoonlike stories ken en hul behoeftes moet aanspreek.
As daar fout kom, hardloop almal na jou toe. As die finansies steier, moet jy pa staan. As die kliënte ontevrede is, bel hulle jou. As die produk nie op standaard is nie, moet jy die planne maak. Soos die Engelsman sê: The buck stops here! Alles word op jou tafel gesit en jy is die laaste een wat dit kan hanteer.
Dit maak ’n mens moeg en later wonder jy hoekom jy so groot geraak het. Kan jy nie maar net weer teruggaan na ’n eenmansaak nie?
Dis egter ’n posisie waarvoor Jesus Sy hand opgesteek het. Hy is die Herder wat omsien na die welstand van Sy skape. Hy is die Een wat graag vir elkeen wil help met hul probleme en uitdagings. As daar enige foute is, wil Hy help met die oplossing.
Jesus, die Herder, gee werklik om. Hy wil sorg dat jou lewe nie in gevaar gestel word nie. Hy wil jou lei na groen weivelde waar dit goed sal gaan met jou. Hy wil toesien dat daar waar jy in die wêreld woon, werk en speel jy nie uit die bus sal val nie.
25Julle het immers soos skape rondgedwaal, maar nou het julle teruggekom na julle Herder en die Bewaker van julle lewe. (1983-vertaling)
Ons het rondgeploeter in die donker. Soms het ons onsself te pletter geloop weens keuses wat nie so lekker vars was nie. Ons het die littekens, maar gelukkig het ons as verlore skape teruggekom na die Skaapwagter.
Hy is ons bewaker. Die Griekse woord wat ons hier gebruik vir bewaker, beteken letterlik toesighouer of selfs biskop of hoof van die kerk. Dit is presies wat Jesus is. Dis Sy werk om toe te sien na God se mense in die wêreld.
Hy sien toe dat God se kerk, God se besigheid in die wêreld reg verloop. As daar probleme is met enige van die lede van God se kerk, kan hulle na Hom gaan. Hy wil graag help. Hy is die personeelbestuurder wat graag na elkeen wil omsien. Hy wil help en Hy wil wysheid gee. Ja, the buck stops here!
Trek jy swaar? Het jy uitdagings in jou pad wat te groot is om te hanteer? Het jy seer? Het jy wysheid nodig? Gaan na die hoof, die bestuurder, die toesighouer, die een wat al die toue bymekaarhou. Hy wil graag help.
Teks
1 Petrus 2:22-25
Om oor na te dink
Wie bestuur jou lewe?
Waar moet jy nader aan die Bewaker beweeg?
Hoe kan jy die hoof van die kerk in die wêreld meer tyd in jou lewe gee?
Gebed
Jesus, ek kan nie sonder U nie. Ek erken U as die Bewaker, die CEO van my lewe. Ek wil graag meer en meer tyd in U teenwoordigheid deurbring. Amen.