God se Woord in vandag se woorde

Tinkie se swaar en geloof


(Graag vra ek om vir my vriend en kunstenaar, wat al Kruispad se sketse teken, te bid. Hy het Maandag ‘n erge beroerte gehad. Dit gaan nie goed met hom nie. Mag ons Vader sy arms om hom en sy familie styf vashou.)

Tinkie (skuilnaam) ken van swaarkry:

Ek gaan nou vir ’n paar jaar deur ’n ongelooflike tyd. Ek wil dit nie swaarkry noem nie, want God loop elke dag die pad met my en voorsien soos Hy dink nodig is.

My dogter is na ’n huwelik van 10 jaar geskei en na drie selfdood pogings het sy haar kinders verloor. Sy was vir ’n jaar en ‘n half werkloos en is in ’n uitgerekte hofsaak oor onderhoud gewikkel …

My seun word in drie jaar twee keer voor die kansel gelos sonder enige verduideliking. Die hartseer daaraan verbonde is grensloos …

My man sluit sy besigheid van 23 jaar as gevolg van probleme met sy werknemers en unies. Hy en my seun sit sonder werk. Ek moet hulle almal met my salaris onderhou. Die uitgawes net te groot …

Na ses maande kry my man ’n werk en ons loof en dank ons Hemelse Vader vir hierdie werk en vir die geld wat hy kry, al is dit net genoeg om die huur te betaal.

Een aand word hy uit die bloute gearresteer oor hy blykbaar iemand gedreig het. Hy moet in die tronk oornag tussen ander misdadigers van die straat. Die ander een se woord teen syne. Hy word op borg uitgelaat en die saak is nou hangend. Ons weet nie wat gaan gebeur nie …

Verlede week kom skryf die balju ons meubels op, want ons is gedagvaar as gevolg van agterstallige skuld wat van die toemaak van die besigheid nog uitstaande was …

Daar is party dae nie eens genoeg geld is om ‘n brood te koop nie …

Dis asof dit nie ophou nie. Dan staan ek verstom as Tinkie vasgryp aan haar God:

… maar God voorsien! Hy het elke dag mense op ons pad gesit wat gehelp het. Hy het voorsien!

Baie tye het ek so moedeloos geword, omdat ek ook maar net mens is. Maar tog het ek elke dag met ’n rustigheid opgestaan. Ek kan dit vir niemand beskryf nie, maar ek het kans gesien vir die dag. Elke dag gevat met God wat die pad saam met my loop, want sonder Hom sou ek dit nie kon gedoen het nie.

God het my deur ’n droom die versekering gegee dat Sy bloed van beskerming oor my en my familie is en dat Hy ons nooit in die steek sal laat nie. Ek het soveel rustigheid en ek glo en vertrou my God 100% en ek weet Hy is elke dag met ons. 

Ons moet Glo en vertrou daar is ’n God, ’n liefdevolle God wat ons hande elke dag vashou en vir ons lei, behoed en bewaar.

Ek loof en prys Hom met my hele hart en met alles wat ek het en sal tot in ewigheid.

Te midde van baie swaarkry en baie seer, gryp Tinkie vas. Soos Paulus oor die mense van Tessalonika praat, kan ’n mens ook oor Tinkie praat: 4… Ons vertel vir hulle hoe julle vas bly staan en bly glo ten spyte van al die vervolging en swaarkry wat julle moet verduur.

Mag ek en jy ook so met swaarkry afreken. Mag daar eendag ook soos daar oor Tinkie se geloof gepraat word, oor ons geloof gepraat word.

Teks

2 Tessalonisense 1:3-6

Dink bietjie hieroor

Hoe lyk jou swaar?

Hoe lyk jou geloof?

Wat moet jy maak?

Gebed

Vader, soms wil my knieë inmekaar sak van al die swaar. Ek kan nie meer nie. Soms is my geloof te dun en weet ek nie of ek die volgende dag gaan maak nie. Ek het U só nodig! Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek