God se Woord in vandag se woorde

Tools van skuldgevoelens, onsekerhede en mismoedigheid


Meer as ’n dekade gelede ontvang ek hierdie verhaal van Hennie (hy is al intussen oorlede): 

Daar word vertel dat die duiwel op ‘n keer bankrot gespeel het en dat hy al sy gereedskap sou verkoop aan enigeen wat bereid was om die regte prys te betaal.  

Op die aand van die vendusie was al die gereedskap pragtig uitgestal en het die hele bose lot daar gelê: Daar was jaloesie, afguns, haat, onsedelikheid, owerspel, moord, vyandskap, woede, en al die ander bose stukke gereedskap, elkeen met sy prys.  

Maar aan die een kant, apart van die ander gereedskap het ‘n stuk gereedskap gelê wat duidelik al baie gebruik was. Dit het ‘n prys gehad wat baie hoër was as al die ander.  

Iemand vra toe vir die duiwel watter stuk gereedskap dit dan was. Die antwoord was: “Dit is Mismoedigheid.”  

“Nou waarom is dit dan so duur?,” wou die persoon weet.  

“Omdat dit vir my baie meer nuttig is as al die ander,” het die duiwel gesê. “Met mismoedigheid kan ek iemand se bewussyn oopdwing en binnedring wanneer ek dit nie kan doen met enige van die ander gereedskapstukke nie.”  

“En as ek eers binne is, kan ek dit gebruik soos dit my pas. Die stuk is al so gehawend, want ek gebruik dit op byna elke mens. Want sien, baie min mense weet dat mismoedigheid eintlik aan my behoort.”  

Al wat ek kan sê, is dat mismoedigheid se prys so hoog is dat die duiwel dit nog nooit kon verkoop nie. Hy besit en gebruik dit nog steeds.  

Dikwels word ons so oorweldig deur ons omstandighede, ons skuldgevoelens en ons lyding, dat ons ophou om te glo, dat ons moed verloor. 

Dinge waaroor ons onseker is, dryf ons baie keer in die gat van mismoedigheid af en breek ons spoed. Dit is soos ’n handrem wat al hoe stywer getrek word en op die ou end ons tot stilstand dwing.  

Saam met hierdie onsekerhede in ons lewe, spring skuldgevoelens gereeld soos ’n spanner in die wiel in. ’n Mens ry nog rustig en voor jy jou kom kry, het die voorwiel vasgesteek, ons trek deur die lug en dan tref ons die aarde met ’n groot slag. 

Onsekerhede en skuldgevoelens is nie deel van God se toerusting om ons op die pad te help nie. Dit is gereedskap wat die duiwel gebruik om ons vreugde te steel en ons te keer om uit te kom waar God wil hê ons moet uitkom. 

Gelukkig hoef ons nie hier vas te steek nie. Ons glo in ’n God wat veel groter is as gereedskap van skuldgevoelens, onsekerhede en mismoedigheid. Hoor hier: 

20Selfs as daar dinge is waaroor ons skuldig of onseker voel, weet ons dat God groter is as al ons skuldgevoelens of onsekerhede. Hy weet immers meer oor ons as ons self. 

 Teks
1 Johannes 3:19-24 

Om oor na te dink
Watter skuldgevoelens sleep jy saam?
Wat maak jou onseker?
Hoe kan God se grootheid hierdie uit jou lewe vee? 

Gebed
Vader, dankie dat U veel groter is as my onsekerhede en skuldgevoelens. Gee my krag om nie mismoedig te word nie. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek