God se Woord in vandag se woorde

Trek jy aan of stoot jy af


So aan die einde van ’n week spreek ek en my vrou af dat ons die naweek niemand gaan nooi nie. Net rustig saam met die gesin wees en batterye laai. Maar as dit Vrydag laatmiddag raak, kry ons al klaar onttrekkingsimptome en begin ons rondkyk vir ’n kuier of ’n braai tuis of by vriende. Of ons klomp rugby-tjommies kry mekaar êrens in die dorp om saam die spanne oor die doellyn aan te por.

Dis juis nou weer die Maandag ná so ’n naweek. Dit was lekker en die energie van die ander mense het my lus gemaak vir die week se uitdagings.

Nou hoekom vertel ek my manewales van die naweek? Want Paulus vertel hoe hy by sy vriende opgetree het en nou sit en wonder ek of daar dieselfde van my gesê kan word? Paulus sê: 5Julle onthou nog baie goed hoe ons daar by julle opgetree het. Julle weet mos dit het net oor julle redding gegaan, oor niks anders nie!

Nee, ek dink nie daar word van ons verwag om altyd ander voor die bors te gryp en te hoor of hulle saak met God reg is nie. Tog moet ons só optree dat ons nie in die pad staan van God se reddingsboodskap nie. Sal mense wat nie gered is nie, aangetrek word na God as hulle vir jou en my naweke tussen ons vriende sien kuier? Laat ons optrede tussen ons vriende die vreemdeling wonder wat ons so opgewonde maak dat hulle ook na God se verlossingsboodskap sal wil luister?

Ek wens ek kon kliphard hierop ja! skree. Het jy ook al so opgetree waar jy moes wonder of jy mense na God aangetrek of weggestoot het?

Kom ons sê dit nou maar reguit vir mekaar – dis nie altyd maklik nie. Tog gee dit ons nie rede om nie te probeer nie. Ons moet soos Paulus altyd die regte voorbeeld stel. Met passie moet ons lewe soos ’n kind van God en dit ook daar buite gaan uitleef. Daar is soveel mense in die donker wat die lig van God nodig het.

Ek hoop die volgende raak heeltemal waar van ons lewens: 6Julle het gou-gou ons voorbeeld begin volg. Daarom is julle nou, net soos ons, volgelinge van die Here.

Wat ’n ongelooflike voorreg is dit nie om ander na die Here te lei nie! Al is dit net een mens wat ons keer om nie oor die afgrond te stap nie. Daar is elke keer ’n groot fees in die hemel oor nóg ’n verlore skaap wat teruggekeer het.

Ek deel graag iets uit ons bediening wat my in trane gehad het. Ons kry die volgende WhatsApp boodskap:

Goeienaand. Ek het vandag een van julle boodskappe via ‘n vriendin ontvang. Ek gaan tans deur ‘n bitter moeilike tyd en wou selfmoord pleeg. Die boodskap het my gestop en ek kon nie voortgaan nie.

Deur God se groot genade kon ons iemand help. Aan God al die eer!

Teks
1 Tessalonisense 1:6-10

Om oor na te dink
Hoe lyk jou voorbeeld?
Het ander al van rigting verander as gevolg van jou manier van dinge doen?
Waar moet en kan jy dinge anders doen?

Gebed
Vader, hoeveel keer gaan ons nog die verkeerde keuses maak wat ander van die pad aftrek? Heilige Gees, help ons om só te lewe dat ons ander na U toe aantrek. Mag die wêreld anders lyk as ons daar deurstap, nie omdat ons goed is nie, maar omdat U deur ons werk. Amen

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek