Tussen twyfel, kyk en glo
Daar is tye in my lewe wat ek onseker is. Tye wat ek onseker is of ek reg glo. My gedagtes loop al in die rondte en in ’n spiraal daal dit na onder waar my geloof op ’n manier my verlaat het, of so voel dit.
Dit is sulke tye wat dit vir my voel of ek teen die verkeerde boom blaf en ek eindig met: “Sê nou maar net ek het die kat aan die stert beet en God bestaan nie eintlik nie …?”
Dit gebeur gewoonlik as ek my ore uitgeleen het vir mense wat stories vertel van ons mense wat graag perfek wil wees. Daarom teken ons vir ons ’n perfekte mens in ons koppe waarna ons kan strewe. Hierdie perfekte mens noem ons dan God.
Ek dink dis die filosoof Kant se storie en dit het my in my eerste jaar in die Filosofieklas amper my geloof gekos.
Ek wonder of jou gedagtes ook al so laag gedaal het en jy gewonder het of God regtig bestaan?
Dis dan sulke tye wanneer ek terugdink aan hoe my pa geglo het. Hy wat eers onderwys geswot het en toe alles gelos het om weer na die universiteit terug te gaan om nog sewe jaar te swot. Want God het Hom geroep om Sy Woord te gaan verkondig.
In hierdie tyd wat my geloof tussen die vloer en die politoer lê en voel of dit my gaan verlaat, dink ek aan ons predikant toe ek op hoërskool was. Hy was ook eers onderwyser, toe hy God se roepstem hoor. Hy leef sy roeping met ’n kitaar onder die blad uit en op die ouderdom van 71, tree Jan de Wet nog weekliks regoor die land op.
As ek so terugkyk na die geestelike leiers in my lewe, kan ek nie anders as om my stukkies geloof weer te gaan optel nie. Hulle lewe is vir my ’n voorbeeld van vashou en aanhou en bly glo. Dan sak ek op my knieë neer en dank God vir hierdie vuurtorings in my lewe. Ek dank God dat hulle lig steeds lig maak as die donker my lewe wil toesak.
Nou maak hierdie teks heeltemal sin: 7Moenie die geestelike leiers vergeet wat die boodskap van God aan julle vertel het nie. Kyk hoe hulle geleef het tot hulle dood is en vertrou dan op die Here net soos hulle op Hom vertrou het.
Ek kan my voorstel dat die ouens vir wie Hebreërs geskryf is, ook gewonder het. Daar waar hulle lewe in gevaar was en baie vir hul geloof doodgemaak is, moes hulle seker wees dat hulle reg glo en dat hul vertroue in die regte Redder vasgeketting is.
Daarom die voorstel dat hulle maar net moes kyk na die geestelike leiers voor hulle.
Uit ervaring kan ek getuig dat dit help, want menigte male het die voorbeeld van dié geestelike leiers in my lewe, my terug op die brug gehelp. En hier terug op die brug, bid ek dan en vra ons Vader om my te help om ook so te lewe dat daar dalk eendag iemand wat ook sukkel met glo en vertrou, kan terugkyk op my lewe en sê as hy kon, kan en sal ek ook.
Mag dit waar wees van jou lewe …
Teks
Hebreërs 13:1-8
Om oor na te dink
Sukkel jou geloof soms?
Het jy geestelike leiers na wie jy kan opkyk?
Kyk jy?
Gebed
Vader, dankie vir die geestelike leiers wat U op my pad geplaas het. Dankie dat wanneer my geloof sukkel en ek sukkel om te vertrou, ek kan opkyk na hulle lewe en weet U is daar. Help my om ook so ’n lig vir ander in hulle lewens te wees, Amen.