Uit die stroom, onder die boom, reg om te red
Ek lees nog iets in vers een raak. Dis die Engelse vertaling wat my help: Wherefore, holy brethren, partakers of the heavenly calling, consider the Apostle and High Priest of our profession, Christ Jesus;
Hier spring drie waarhede uit: “Holy brethren” kan ons sommer direk vertaal na heilige broers, en natuurlik susters ook. Dis ’n titel wat aan elkeen van ons wat glo, gegee word. Jy is heilig. En teen die tyd weet ons dat heilig beteken dat ons vir God afgesonder is.
God het ons uit die gewone vloei van die lewe kom uitlig en op ’n spesiale plek langs die rivier van die lewe onder ’n boom gesit. Ons is anders as die ander. Nee, nie om verhewe te wees nie, maar om daar onder die boom ’n reddingstasie te wees vir die ander wat besig is om deur die stroom van die lewe meegesleur te word.
En hier onder die boom, in die skaduwee van die lewe, sit ons elkeen met ’n hemelse roeping. Dit maak ons nou regtig spesiaal.
Wanneer die lewe ons druk, moet ons weet en glo en daaraan vashou, dat ons self deur God genomineer is om met behulp van ons gawes ’n verskil te maak. Waarin is jy goed? Wat kom vanself in jou na vore? Sonder dat jy eintlik daarvoor geleer het, doen jy dit sonder om te dink.
Is jy goed met jou hande? Of is jou breinkrag soveel groter? Of is dit jou mond wat sommer net loop soos stroop?
Dis eintlik ’n ongelooflike waardegewer. Dit gee aan ’n mens nuwe betekenis om te besef dat die Hemelse Vader vir elkeen van ons ’n hemelse roeping het, WOW!
Verskoon dat ek myself weer as ’n voorbeeld gebruik, maar dalk bring dit ’n bietjie meer lig op die onderwerp. Ek het ’n gawe gekry om te skryf en dis eintlik so vanselfsprekend. My oom was die bekende Afrikaanse skrywer, Boerneef. My pa het oor die 100 gesange geskryf. My suster is ’n bekende Afrikaanse koerantmaatskappy se boeke-redakteur. Dit kom saam met die bloed, dit loop in die are.
Wanneer ek besef dat God my uit die hemel roep om hier op aarde te werk en dit met my gawe meng, kan ek mos nie anders as om my vingers op die sleutelbord te laat raas om ander uit die stroom van die lewe te red nie.
Jy het ook ’n hemelse roeping en ek het ’n goeie spesmaas dat dit iets te doen het met jou gawes.
Derdens, het ons ’n perfekte voorbeeld in Jesus. Hy was so getrou aan Sy hemelse roeping hier op aarde. Van die begin af was Hy nie in die stroom nie, maar op die rand om mense uit die verderf te help.
Jy is so spesiaal. Moenie toelaat dat iemand anders of jou eie denke, jou anders probeer vertel nie. Glo in jou roeping van Bo en gaan leef dit onder die boom langs die rivier uit. Dalk is jy die een wat iemand red.
Teks
Hebreërs 3:1-6
Om oor na te dink
Wat is jou gawes?
Wat is jou roeping?
Waar moet jy dit gaan uitleef?
Gebed
Dankie vir die ene, God. Ek voel klaar beter. Eintlik wil ek nou uitklim en ander help. Wys my hoe en waar. In Jesus se Naam, amen.