God se Woord in vandag se woorde

Uitverkies en gehelp


Sommige van die slim mense sê hulle glo nie in God nie, want hulle is nie deur Hom uitverkies nie. Ek wonder hoe weet hulle of hulle deur God uitverkies is of nie?

Die uitverkiesingsleer kan soms baie moeilik wees om te verstaan en tog is dit nie so moeilik nie. As ons vers 2 direk vertaal klink dit so: Ons/Julle is uitverkore omdat God voor die tyd geweet het wat jy gaan kies.

God weet alles wat in die wêreld aangaan. God weet alles wat môre, oormôre en tot in alle ewigheid gaan gebeur. Ons praat van God se voorkennis. God weet wie vir Hom gaan kies en wie nie. En dit is juis op dié voorkennis wat God mense uitverkies.

Wanneer jy dus vir God kies, is jy uitverkore, want God het geweet. Lankal al het God geweet dat jy vir Hom gaan kies. En tog berus God se uitverkiesing nie op jou keuse nie. Ons verstaan nie altyd alles nie, want God se tyd ruimte en ons s’n verskil heeltemal.

Onthou, God is heel anders as ons en ons verstaan nie alles van God nie. Vir God om God te bly, is daar ’n stuk onverstaanbaarheid. Wat ons wel vir seker weet is dat Jesus vir alle mense gesterf het. Enige iemand kan hierdie verlossing deel maak van hom- of haarself.

Tog kies sommige om nie die verlossing te aanvaar wat Jesus met Sy bloed bewerk het nie. Dis so jammer. Ek sal eerder vir God kies en daar bo aankom en besef ek was nie uitverkies nie (wat natuurlik nie waar kan wees nie), as om daar bo aan te kom, te besef ek was al die tyd deur God gekies, maar ek het nie vir Hom gekies nie.

Dit sou vir seker die grootste bummer in my lewe gewees het om die bus te mis en die res van my ewige lewe in ’n plek deur te bring waar ek dit haat om te wees.

 2God, hulle Vader, weet al lankal dat hulle Syne is, want die Heilige Gees het hulle Syne gemaak.

In hierdie keuseproses staan ons nie alleen nie. Gelukkig, wil ek amper sê, word ons nie aan onsself oorgelaat nie. Die Heilige Gees is daar om ons te help. Ja, ek kies self. Dit is my besluit. Ek word nie in ‘n hoek vasgedruk en gedwing om te kies nie.

Êrens het ek in myself vasgeloop en nie so ’n mooi prentjie gesien nie. Ek het die vuil, sondige ek raakgesien en geweet dit is nie wie ek wil wees nie. Ek het méér gesoek. Ek het ’n beter ek gesoek.

Daar het ek begin soek na iets meer. Op ’n manier het ek geweet dat ek ontslae moet raak van die las wat my spoed breek. Ek het geglo daar is meer in my. Ek het geglo en gesoek en by Jesus se kruis aangestrompel gekom.

Dit is met hierdie proses waarmee die Heilige Gees ons help, want op ons eie is ons nie in staat om dit te doen nie. Dit is dus deur die voorkennis van God dat God Sy Gees vir ons beskikbaar stel.

Ek besef nou eers hoe groot God se genade is. Hy het geweet dat ons by Hom wil uitkom, maar dat dit maar ’n gesukkel sal wees. Juis daarom help Hy ons, eintlik nog voor ons Hom gekies het.

Mag ons vandag anders leef, juis omdat ons hierdie genade verstaan. Mag ons dit gaan uitleef daar buite, want daar is nog baie wat nie die geklop hoor nie.

Teks
1 Petrus 1:1-2

Om oor na te dink
Maak die uitverkiesingsleer vir jou sin?
Kan jy dit met iemand deel?
Met wie?

Gebed
Vader, dankie dat U my gekies het. Dankie dat ek kon kies, met die hulp van U Heilige Gees. Dankie vir al die genade. Help my om juis dit vandag te gaan uitleef. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek