God se Woord in vandag se woorde

Vergewe om te vergewe


Arrie (skuilnaam) vertel my die aangrypende storie: 

Gooi weg daai juk op jou skouers. Raak ontslae van die klip en wrok in jou hart. 

Op Saterdag 16 Mei 1970 het ons na die Skyview inry op Kuilsrivier gegaan. Op pad terug, naby Polkadraai, ry ’n dronk man van voor af in ons vas en my ouers is albei oorlede. Ek, my broer en suster het by my ouma in Pretoria gaan woon. 

Ek het haat in my hart gedra teenoor die man wat onverskillig was om dronk te bestuur. Eers het ek gevoel ek wil hom vermoor. Later het ek besef dit sal niks help nie en ek het gevoel ek wil hom met die vuis gaan bydam. Ek het ’n wrok teenoor hom gedra.  

In 1999 woon ek ’n paar Woord-in-Aksie-kampe by. Hier leer ek dat dit waarop jy fokus jou oorweldig. Ek leer ook dat God ons reeds vergewe het vir als wat ons gedoen het. Ek leer ek moet ook ander mense vergewe. Ek leer dat ek vir God moet vergewe.  

Die gedagtes van vergifnis bly heeltyd in my kop maal. Ek het ander mense vergewe, maar ek voel steeds ’n wrok in my hart teenoor die man wat my ouers vermoor het in die ongeluk. Ek begin besef ek sal hom moet opsoek, maar waar en hoe? 

Die Here se legkaart werk anders as wat ons dink. My vrou se vriendin trek en ons gaan groet hulle. Vir die eerste keer ontmoet ek haar man. Hy vra uit van waar ek is. Toe ek hom vertel van my ouers en die motorongeluk, raak hy wit in die gesig en hy sê die man is aangetroude familie. 

Ek woon ’n Amos-projekbyeenkoms by en daar word weer van vergifnis gepraat. Ek besef toe ek moet werk maak van die wrok in my hart.  

Ek kontak my vrou se vriendin en vertel dat ek graag die man wat die ongeluk veroorsaak het, wil ontmoet.  

Natuurlik was dit ’n skok vir die man, maar hy stem in.  

Ja, die ontmoeting was stram. Ek het vir die oom ’n brief geskryf, want ek het geweet ek sal nie kan praat sonder dat my stem bewe of dat ek huil nie. Daarin het ek hom vertel dat ek hom vergewe en ek kom ook namens my broer en suster en my hele familie.  

Hy het dit baie positief ervaar en was dankbaar dat ek dit gedoen het, want dit het hom ook sy hele lewe lank gepla oor wat van ons geword het. Ek kon hom verseker ons is gevestig in die lewe en beroepe wat ons beoefen. Dit was vir my en vir hom ’n verlossing en verligting.  

Daardie dag kon ek my wrok in die hande van die Here los. Dit was ’n groot las wat my skouers af is. Ek voel ek kan mense skud of wakker klap wat so maklik sê ek sal daai persoon nooit kan vergewe nie. Hulle weet nie wat hulle aan hulleself doen nie.  

9… God is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons (alle!) sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. 

As God ons al ons sondes vergewe, hoe kan ons nie ander vergewe wat teen ons verkeerd gedoen het nie? 

Teks
1 Johannes 1:5-10 

Om oor na te dink
Glo jy dat Jesus vir al jou sondes gesterf het?
Het iemand iets aan jou gedoen en dis vir jou moeilik om te vergewe?
Wat moet jy doen om soos Jesus te vergewe?  

Gebed
Vader, dis nie maklik om vergifnis uit te deel nie. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek