God se Woord in vandag se woorde

Verlossing vir almal


Wanneer God by die mens se voordeur opdaag, is Hy daar om waarde toe te voeg. Waarde van dooie paaie wat ’n mens nie eendag hoef te loop nie. Hiervoor het Jesus met Sy lewe aan die kruis by Golgota betaal. Dis lewensreddende waarde wat aan die mens toegevoeg word.

Hierdie opsie is aan alle mense beskikbaar. Enige een kan die deur oopmaak en Jesus in hulle lewe inlaat. Sonder voorbehoud, sonder keuring, sonder enige toelatingsvereistes.

Uit ondervinding het God ervaar dat arm mense makliker hul deur vir Hom en Jesus oopmaak. Nie dat die arm mense meer ontvanklik is vir die lewensreddende geskenk wat uitgedeel word nie, maar eerder dat mense wat alles het, eenvoudig niks meer nodig het nie.

Hoekom sal mense wat dan nou alles het, die nodigheid sien om Jesus in hul lewens toe te laat? Ek vermoed dis waarom Jesus gesê het dit sal makliker wees vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan, as vir ’n ryk man om tot inkeer te kom.

God kies vir almal, vir die vooraanstaandes, die wat alles het, maar ook vir die wat in die oë van die wêreld nie veel werd is nie. Laasgenoemde het egter baie waarde in God se oë, want dis hulle wat Hom maklik aanvaar en toelaat in hulle lewens.

5Vir wie het God gekies om sy goeie vriende te wees? Vir wie het God sy kinders gemaak sodat alles wat aan Hom behoort ook hulle s’n kan word? Hy het dit alles mos beloof aan mense wat vir Hom lief is. Hy het dit aan diegene gedoen wat in die oë van mense onbelangrik lyk; mense op wie ander neersien.

Laat dit vir ons ook ’n voorbeeld wees van hoe ons na ander moet kyk. Die mense wat die wêreld dink onbelangrik is, is in God se oë belangrik. Hulle is die kinders van God en hulle is op die ou end die mense wat werklik ryk is.

Maar dit sluit nie die rykes uit nie. Onthou, die wat vir Jesus aanneem en in Hom glo, die wat Hom liefhet, is almal erfgename. Hier maak dit nie saak hoe dik jou beursie is of hoeveel grade of hoeveel toekennings op jou rak staan nie. Enige iemand wat Jesus aanneem, is welkom.

Waar lê ware rykdom? Nie in die hierdie wêreld nie. Dis die skyn rykdom en aansien wat ons aandag aftrek van die ware rykdom. Laat ons daarom fokus op die ware rykdom en mense help wat op verkeerde plekke soek. Laat ons ook maak soos Jesus en almal vertel van die ware verlossing.

Kom ons maak ook seker dat ons teenoor almal dieselfde optree. Mag ons manier van die lewe leef vir almal nader wys aan die Een wat nie vaskyk in wêreldse goeters nie, maar hul harte raaksien.

Teks
Jakobus 2:1-7

Om oor na te dink
Hanteer jy almal dieselfde?
Hoe kan jy anders leef sonder voorkeur?
Waar moet jy nog anders teenoor ander leef?

Gebed
Vader, ek weet dat ek sommige mense nog voortrek. Ek weet nie, maar dit gebeur net so. Help my om almal dieselfde te behandel en vir almal na U te wys. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek