God se Woord in vandag se woorde

Vertrou en doen goed teen die bult uit


’n Penvriend uit die Oos-Kaap speel altyd so mooi met woorde. Tussen die woorde sien ’n mens die opdraande pad: 

My stilte is gebore uit ’n komper wat die gees gegee het.  As bonus weier my drukker ook om verder te print die naweek.  My preek was net 4 bladsye ver toe kalf my printertjie sonder enige laaste dag waarskuwings. 

Na vrae kry ek die skokkende nuus: “Oom, ons kan die ding nie herstel nie. Die printers word nie eers meer gemaak nie. Dis ou model.”  

Ek voel effens verontwaardig. ’n Ou model? Wat noem mens dan ‘n oom van bykans 80, wou ek weet.  Ons twee kom reeds baie bladsye saam. 

Pensionarisse ken van bid. Veral as jou begroting elke maand naby R4 000 kort kom. Wat sny mens uit en hoekom raak my wants en my needs soms deurmekaar. Skielik proe bietjie pap saans met melkies nie te vrotterig vir hol maag nie.    

Beursie is so dun hy het net een kant tans. Daaruit kan min kom.  Ek hunker reeds na ’n donkiekarretjie, want petrol is duur soos goud.  Van baie staan in garage gee tjorrie se battery ook in. My krag ontbreek om te kan stoot soos vroëer.   

Miskien kan ons weer gesels oor jongste skete en kraakvars vreemde pyne in my ou model. 

En so kan ons elkeen ons eie storie skryf van swaarkry. Êrens kom ons almal by ’n bult te staan waar ons kragte te min is om daaruit te worstel. Baie keer is die bult so hoog dat ons nie eens kans sien om die eerste tree te gee nie. 

Dat daar bulte in ons lewe gaan wees, is ’n feit soos ’n koei en eintlik is ons glad nie toegerus om hierdie bult op ons eie uit te beur nie. Daarom is dit so belangrik dat ons God hand sal neem, sodat Hy ons deur die swaar kan help. 

19As ’n mens al dié dinge in gedagte hou, moet die mense wat swaarkry omdat dit deel van God se plan met hulle is, Hom heeltemal vertrou met wat in hulle lewe gebeur. God het hulle immers gemaak en sal hulle nie in die steek laat nie. Hulle moet net op die regte pad bly deur goed te doen. 

God het ons gemaak en weet waartoe ons in staat is. God sal nie toelaat dat daar dinge met ons gebeur wat ons nie kan hanteer nie. Hiervoor moet ons Hom ten volle vertrou. Ons moet weet en glo en daaraan vashou dat God ons nooit in die steek sal laat nie. Met hierdie vertroue in die sak kan ons die bult aandurf. 

En terwyl ons so aan die stoei is en wonder watter pyn nog sy verskyning gaan maak terwyl ons die bult aan die uitbeur is, moet ons op die pad bly deur goed te doen. Ons moenie toelaat dat die swaar ons kortpaaie laat vat nie. Gou wil ons dalk van die wêreldse maniere gebruik om te help, maar dit is nie altyd die regte manier van doen nie.  

Wanneer ons dan weer voor ’n bult met kraakvars vreemde pyne staan, laat ons op God vertrou en vir onsself sê: Hy weet waartoe ons in staat is. Laat ons dan seker maak dat ons aanhou om die regte dinge te doen, want so leer ons die mense wat saam met ons die bulte van die lewe uitstrompel ook wat die regte manier is om daaruit te kom.  

Teks
1 Petrus 4:12-19 

Om oor na te dink
Waarteen beur jy?
Vertrou jy God?
Doen jy die regte dinge? 

Gebed
Vader, ek kry soms so swaar en dan sukkel ek om reg te doen. My vertroue in U is ook dun. Help my! Amen.  

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek