Vetplante, gras en sonde
5… God het ons heeltemal nuut gemaak. Ons is ’n tweede keer gebore toe ons sy kinders geword het. Toe is al ons sondes afgewas.
Beteken dit dat ons nou heeltemal skoon is van sonde en nie weer sonde gaan doen nie? As ek so na my eie lewe kyk, besef ek die antwoord is hard en duidelik, “nee”. Êrens is daar nie ’n wonderstaffie geswaai en kan, of selfs wil, ons nie meer sonde doen nie.
Eintlik sou dit lekker gewees het as ons by ons bekering die vermoë verloor het om sonde te doen. Dan sou ons nie so gesukkel het nie. Maar helaas, weet ons almal maar nie te goed dat dit nie so gebeur het nie! Sonde is springlewendig en groei vir dood in baie kinders van God se lewe.
Lizelle maak sonde op ’n mooi eenvoudige manier oop vir almal om te verstaan:
Ons het my vetplante geskuif. Ek weet dat met so iets ‘n mens tog maar ’n paar gaan verloor.
Terwyl ek so sit en onkruid uittrek, wat na die reën so erg is, sien jy amper nie die vetplante nie.
Toe dink ek by myself. Die sonde is soos die onkruid. As jy aanhou om dit net te los en niks daaraan te doen nie, gaan dit jou lewe oorvat.
Dis so waar. Ek het dit op my eie grasperk ervaar. In die Winter het die wintersgras erg gegroei en my hele grasperk oorgevat. Die kikuyu hou nie van in die skaduwee groei nie en het amper gevrek. Ek moes dringend ’n selektiewe onkruiddoder spuit om die wintersgras dood te maak, sodat daar weer son kon skyn en die kikuyu weer krag kan kry om op te staan en lekker groen te groei.
Onkruid het mos die geneigdheid om op enige plek te groei. Sonder dat dit eers water kry. Al die ander plante kry swaar, maar onkruid groei al te lekker.
Sonde maak ook so in ’n mens se lewe. Jy hoef dit nie eers aandag te gee nie, dan staan dit sommer lekker hoog aan die groei. Die probleem is dat dit ons hele wese oorneem en dit wat God wil hê vir ons lewens, dooddruk.
Kyk maar hoe lyk die mense wat toelaat dat die sonde hulle lewe oorneem. Niks lekker nie. Diep in hulle harte is hulle so ongelukkig.
Ons moet die sonde in ons lewens nie maar net so los nie. Sonder dat ons dit agterkom, staan en groei hulle en neem alles oor. Ons moet intensioneel ontslae raak van die sonde in ons. Ons moet planne maak om dit nie meer te doen nie en dan moet ons die nodige gereedskap in die hande kry om hulle met wortel en tak uit te roei.
En wanneer ’n mens so ’n stuk lees oor sonde, pop daar mos altyd een of twee goeters in jou lewe voor jou oë op. Dis dalk presies aan daai manne wat jy moet werk. En jy hoef nie so erg daaroor te voel nie. Ons almal sukkel maar met een of twee daarvan in ons lewens.
Teks
Tit 3:3-7
Om oor na te dink
Watter sondes is daar in jou lewe?
Hoe kan jy hulle uittrek?
Wie moet help?
Gebed
Vader, U weet hoe ek sukkel om die stuk sonde uit my lewe te kry. Ek het al so baie probeer, maar kry dit nie reg nie. Wys my hoe moet ek anders maak. In Jesus se Naam, amen.