God se Woord in vandag se woorde

Vir wie werk jy?


Baie van ons bring die meeste van ons tyd by die werk deur. As jy nie gelukkig is waar jy werk nie, kan dit van jou ’n vreeslike ou knorpot maak. Al die negatiewe energie kry êrens ’n opgaarplekkie, maar op een of ander stadium gaan dit met ’n moewiese ontploffing na buite storm.

Weet jy dat jy geroep is daar waar jy werk? Weet jy dat jy geroep is om ’n verskil daar te maak? Weet jy dat jy daar geplaas is om God se agent te wees?

Dit is nie altyd maanskyn en rose by die werkplek nie. Soms sukkel ons met mense, met masjiene, met kontantvloei, met kliënte en wat ookal. Partymaal wil mens weghol, maar dan is daar een ding waaraan ons moet vasklou: Weet dat God jou daar geplaas het. Hy wil jou gebruik om ’n verskil te maak in elke persoon se lewe met wie jy in aanraking kom.

Kan ek dit weer vra: Weet jy dat jy geroep is deur die Almagtige God om daar waar jy werk, daar waar jy in een van die senior posisies staan of daar waar jy onder iemand anders se beheer staan, geroep is om ’n verskil te maak?

Hier moet ons vertrekpunt wees: 22Nou kom ek by julle wat vir base werk. Doen wat julle aardse base van julle vra. Moenie skynheilig wees en net werk as hulle vir julle kyk nie…

Ons moet die persoon wees aan wie die eienaars hulle sleutels sal toevertrou. Ons moet die werknemers wees op wie se knoppie gedruk kan word. Ons base moet weet dat ons die mense is wat deur dik en dun glimlag en nie sal omgee om laat te werk om die wa deur die drif te trek nie.

Dalk moet ons ons vissier ’n bietjie lig en besef dat ons eintlik nie net vir ’n baas of vir die tjek aan die einde van die maand werk nie. Ja, dit is nogal belangrik om aan die einde van die maand geld te kry om aan die lewe te bly, maar dit is nie die primêre rede hoekom ons werk nie.

23Julle wil tog die Here tevrede stel en nie mense nie. Laat mense dit ook sien aan die oorgawe waarmee julle julle werk doen. Ons werk eintlik om God se Naam te verheerlik. Ons werk om God tevrede te stel deur te doen wat Hy wil hê ons moet doen.

Jou werk lyk nou ’n bietjie anders as ’n mens dit uit die hoek sien, né.

Dalk verstaan jy nou hoekom dit nie aldag voor die wind gaan nie. Dalk sien jy nou raak dat wanneer jy aan die klippe kou is, jy sterk gemaak word of dalk soms ’n bietjie getoets word. Partymaal word jy in warm vuur gedruk sodat jy soos yster gevorm kan word om sterker te wees.

Partymaal gaan dit regtig erg en besef jy dat dit die duiwel is wat jou daar wil uitwerk, want met die hulp van die Heilige Gees is ons besig om die duiwel daar by die werk pak te gee.

Beteken dit dat jy dan net moet stilbly as daar onregverdig teenoor jou opgetree word net omdat jou werk jou roeping is? Vir seker nie! God verwag nie van ons om ander se slaansakke te wees nie. Nog minder verwag God dat ons uitgebuit word. Onreg moet aangespreek word. God verwag dat ons self sal toesien dat daar nie op ons getrap word nie en dat ons sal opstaan vir reg en geregtigheid.

Dis egter nie so maklik nie. Daarom stel ek voor dat jy stil raak en die hand van die Heilige Gees neem om ook daar in jou werksplek met wysheid op te tree.

Mag die plek waar jy werk anders wees, omdat jy ook daar vir God met oorgawe dien.

Teks
Kolossense 3:18-25

Om oor na te dink
Wat is jou roeping?
Wat moet jy by jou werk doen?
Hoe kan jy saam die Heilige Gees by die werk stap?

Gebed
Vader, dankie vir my werk. Ek besef nou dat my werksplek ook deel van my roeping is. U roep my om by my werk ’n verskil te maak. Dit is nie aldag maklik nie, Here, maar help my asseblief daarmee. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek