Voetspore in die sement
’n Jarelange vriend is in die Ooste. Hy gee skool daar. Hy verlang erg na sy vrou en wil so graag by haar en sy mense wees. Hy werk hard om ’n besigheid staan te maak, sodat hy weer terug op eie bodem kan lewe.
Hy wonder en stoei soms ook met wat hy daar doer doen.
Hy vertel:
So stap ek mos baie op die sypaadjies en sien die heeltyd hierdie voetspore in die sement ingesink. Ek begin foto’s neem daarvan en stop toe by Leo wat kos maak op die sypaadjie om uit te vind waarom dit daar is en wat dit beteken.
Ons het skaars begin gesels, toe arriveer daar ‘n vrou op pad na haar Christenkerk in die area, met ‘n kitaar op haar skouer. Sy praat ook beter Engels as Leo en verduidelik toe vinnig vir my.
Net daar begin ons teenoor Leo te getuig. Sy was eerste aan die beurt en praat in Thai met Leo en haar hande gaan op in die lug soos sy verduidelik van God in die hemel en Sy Seun, Jesus, wat ons Verlosser is. Ek kry toe ook ‘n kans om net te beaam en my storie te deel.
Ons kyk na mekaar en vra vir Leo of hy die Here Jesus nou in sy lewe wil aanneem. Ons begin die bekeringsgebed bid. Leo herhaal dit in Thai soos wat sy bid. Ek bid my weergawe in Engels na sy klaar is.
Na die tyd vra ek vir haar of sy ‘n Thai Bybel vir Leo het. Sy belowe om een te laat aflewer en nooi hom na haar kerk toe. Ek neem toe haar details vir toekomstige kontak om inligting rakende Leo op te volg.
Sondag, soos oudergewoonte, luister ek en my vrou na RSG se Sondagpreek en ek dink toe by myself: Waaroor sal vandag se preek gaan? Ek hoop dit sal gaan oor wat vroeër die week daar op die straat gebeur het. En so waar as vet! Die dominee preek toe oor Paulus se brief aan die Filippense terwyl hy in die tronk was, en hoe hy, vasgeboei aan die tronkbewaarder, sonder ophou getuig.
Ek dink toe na die tyd. Wanneer laas het ek iemand na die Here toe gelei soos vanoggend saam met Rebekah? Dit het meer aan my binneste iets gedoen as vir Leo, omdat ons op daai oomblik met Sy besigheid betrokke geraak het. Dis Sy besigheid en hoe ernstig is ons oor Sy besigheid, Sy evangelie, Sy Woord?
Dis so eenvoudig. Ons moet net praat en die vraag vra: “Wil jy nie ook vir Jesus aanneem nie?”
Dit het begin met ‘n eenvoudige vraag oor voetspore in die sement.
As dit die enigste rede is waarom my vriend daar in die Ooste is, was dit oor en oor die moeite werd. Die engele sing uit volle bors daar Bo!
Sonder dat my vriend dit weet, het hy die beste met die vreemdeling gedeel en presies onthou: 16Onthou ook om goed te wees vir ander mense. Gee ook vir hulle van dit wat jy het. God hou daarvan as ons so maak.
Teks
Hebreërs 13:9-16
Om oor na te dink
Is jy genoeg goed vir ander?
Kan jy meer?
Waar en hoe?
Gebed
Vader, ek kry so baie! U gee vir my alles wat ek nodig het. En ek gee so min daarvan aan die mense om my. Ek wil en moet nog aangee. In Jesus se Naam, amen.