Volg!
My seun studeer Bsc Informasietegnologie. Ek vermoed hy doen dit ondergronds, want ek sien hom nie eintlik agter die boeke nie. Maar nou kan ek nie te veel sê nie, want ek was self maar erg skrikkerig vir swot.
Soms skrik ek wanneer ek myself in ons kinders sien. Ek is van geaardheid iemand wat gedurig die grense toets en verskuif. Een van ons dogters is ook nie bang vir grense skuif nie. Baanbrekerswerk is haar kos.
Die ander een werk haarself moeg. Sy sit alles in en werk asof die besigheid haar eie is. Sy deins nie terug vir enige uitdaging nie. Sy sal aanhou totdat die probleem opgelos is. Waar ek ook al gewerk het, het ek ook alles gegee.
Dit het vir seker iets te doen met gene, maar daar is meer. Kinders hou ’n mens fyn dop en wanneer hulle in soortgelyke situasies is, maak hulle ook so. Dis veral as hulle onseker is dat hulle terugval op die default van hulle ouers.
’n Mens besef darem net hoe ’n groot verantwoordelikheid dit is om kinders groot te maak, want meeste van die kere volg hulle jou. Ja, hulle het hul eie kop en besluit self wat om te maak, maar hulle gaan vir seker jou manier van die lewe leef, uittoets.
Ek vermoed hoe sterker die verhouding is, hoe meer gaan hulle agterna stap.
Dit is presies wat ons moet doen. Eintlik is dit ’n opdrag: 22As Christene word daar van julle verwag om soos Jesus te leef. Hy het vir julle ’n voorbeeld gestel hoe julle moet leef. Leef soos Hy geleef het.
Soos kinders ouers volg, moet ons wat Christene is, Christus volg. Die naam sê eintlik alles: ons kry die titel Christen as jy ’n volgeling van Christus is. As jy ’n Christen is en gestand wil doen aan die titel, maak jy soos Jesus maak.
Maar hoe kan ons vir Jesus volg as ons nie weet waar Hy is nie? Hoe kan ons doen soos Jesus doen as ons nie weet hoe Hy doen nie? Hoe kan Jesus voor ons stap as daar nie eintlik ’n verhouding is nie?
Daarom is dit so belangrik dat ons soveel as moontlik kennis van Jesus en Sy manier van die lewe leef sal ontdek. En waar anders as by die, kan ek sê, die biografie of eintlik outobiografie van Sy lewe: Die Bybel.
Ek noem dit sommer outobiografie, want dis mos deur die Heilige Gees geïnspireer en saam met God vorm hulle die Drie-enige God. Dis hier, in God se Woord, waar ons Jesus leer ken, waar ’n verhouding ontstaan en waar ons leer hoe om agter Jesus aan te stap.
Jy sien, om Jesus te volg, is ’n lewenslange reis. ’n Reis waar ons nie besluit ons gaan vanaand eers op ons eie daar in die braaikamer of net saam met ons vriendinne by die partytjie opdaag nie.
Ons is 24/7 Christene. Ons moet elke sekonde van die dag agter Jesus aanstap. Dan sal ons orals doen soos Hy doen. Dan sal ons leer dat ander mense eintlik belangriker is as ons en sal ons ’n verskil maak orals waar ons gaan.
Teks
1 Petrus 2:22-25
Om oor na te dink
Volg jy vir Jesus oral waar jy gaan?
Waar draai jy soms weg?
Is jou lewe ’n voorbeeld van hoe Jesus geleef het?
Gebed
Jesus, ek wil so graag vir U volg, maar soms dwaal ek af. Help my asseblief om U nooit uit die oog te verloor nie. Amen.