Vriend van God
Ek is so bevoorreg om elke jaar die oes-af-biduur by die Helderbergboere, duskant Somerset-Wes te doen. Ek het mos self ’n heel klomp jare op ’n wingerdplaas in die area gewerk. Dis heerlik om weer met die mede-boere te kuier en weer al die ou stories hier uit die diep gebêre lêers te haal.
Dis verblydend om te sien dat die nuwe generasie op die plase raakvat en ook by die biduur is om dankie te sê vir die oes wat in die kelders is.
Ek begin my boodskap om te verwys na die afgelope Paasfees waar ons Jesus se sterwe aan die kruis en Sy opstanding gevier het. Dis wat ons glo en ons is so dankbaar daarvoor. Dit is juis hierdie dankbaarheid wat ons aanvuur om iets te doen.
Toe sê ek vir hulle dat die sukses van die oesafbiduur nie daardie aand bepaal word nie. Die sukses word eintlik bepaal wanneer die dankbaarheid wat hulle vir God vir die oes het, oorgesit word of uitvloei in dade deur die res van die jaar.
Jy sien, ware dankbaarheid het gevolge. Ware dankbaarheid loop uit in dade. ’n Mens kan dit nie keer nie. Dankbaarheid draai ’n kraan oop waaruit daar dade stroom en die kraan kan g’n mens toedraai nie.
Daarom, as daar nie dade is nie, as mense nie ’n verskil maak in ander mense se lewens môre en oormôre nie, word daar ’n hoop vraagtekens agter die sogenaamde dankbaarheid gesit. Dan is die dankbaarheid maar eintlik net wind wat nêrens waai nie.
En dan kom ons weer uit waar ons begin het: ons glo en omdat ons glo en besef wat Jesus vir ons gedoen het, word ons oorval met dankbaarheid en pomp daar dade wat ’n verskil maak by die kraan uit.
Abraham het net so geglo en het net so uit dankbaarheid gedoen soos God gevra het. Al was dit om die ergste ding in sy lewe te doen deur sy geliefde seun te offer. Hiervoor is 23…hy van toe af ’n vriend van God genoem.
Dit is ’n eenvoudige formule: glo > dankbaarheid > dade = vriende van God. Die boere glo in God. Hulle weet dat daar ’n hoop veranderlikes is wat die oes bepaal en waarin hulle nie ’n hand het nie.
Daarom is hulle so dankbaar aan die einde van die oes, dat hulle graag wil dankie sê en dis reg so. Wanneer die dankbaarheid egter verder gaan as die biduur en hulle maak ’n verskil, help mense in nood, gee ’n oor hier of trek iemand uit daar, kry hulle ’n nuwe titel. Hulle word dan vriende van God genoem.
Mag ons almal die titel kry. Mag ons almal deel raak van die vriende-van-God-groepie en ’n verskil maak orals waar ons gaan. Nie omdat ons moet nie. Nie omdat ons gedwing word nie, maar net omdat ons kraan oopgedraai word uit dankbaarheid.
Teks
Jakobus 2:14-26
Om oor na te dink
Hoe dankbaar is jy?
Loop jou dade-kraan?
Word jy ook ‘n vriend van God genoem?
Gebed
Vader, ek is regtig bankbaar vir alles wat U vir my doen. Sonder U is ek niks, het ek niks. Ek wil so graag ‘n vriend van U genoem word. Help my dat my doen en late in lyn kom met wat U gelukkig maak. In Jesus se Naam. Amen.