God se Woord in vandag se woorde

Waar daar liefde en deernis is


Pieter (skuilnaam) vertel ’n storie van sy skoonsuster daar uit Velddrif se wêreld: 

Sy vertel dat sy by die Spar op Laaiplek haar inkopies gaan doen en dat daar altyd ’n vrouesekuriteitswag by die in- en uitgang staan. 

Die vrou het altyd hartseer en moedeloos gelyk.  

Eendag stap sy weer verby haar en groet en glimlag vir haar. Sy het haar ook ‘n appel wat sy pas gekoop het, gegee. 

Sy vertel dat daardie vrou se gesig gestraal het van blydskap.  

Die tye wat sy weer daar inkopies gedoen het, het sy gesien dat daardie einste vrou almal met ‘n glimlag groet wanneer hulle in- en uitstap by die winkel.  

Sy het toe selfs bevordering gekry na ’n hoër rang. 

Pieter sluit dan af: 

’n Bietjie vriendelikheid en ’n glimlag kos niemand niks en ’n mens kan ’n ander een se lewe daardeur verander. 

Dit vat darem regtig bitter min om ’n groot impak in ander mense se lewens te maak. Pieter se skoonsuster was sensitief vir die leiding van die Heilige Gees. Sy het die nood raakgesien en iets daaraan gedoen en die gevolge was ewigdurend in iemand anders se lewe.  

Sy klou nie koppig aan haar eie appel en redeneer dat sy dit vir haarself gekoop het en dat die ander vrou self een kan gaan koop nie – sy het mos immers ’n werk. Nee, uit liefde deel sy met ander.  

17Byvoorbeeld, veronderstel iemand het alles wat hy nodig het. Hy kom egter agter dat ’n medegelowige eenvoudig nie genoeg het om oor die weg te kom nie. Wat nou gemaak? Wel, as die persoon wat genoeg het, meen die nood van die ander een raak hom nie en ongevoelig daarby verbykyk, flits die rooi ligte. Daardie persoon tree eenvoudig nie op uit die liefde wat van God kom nie. 

Pieter se skoonsuster val vir seker nie in hierdie kategorie nie. 

Dit laat dink my aan die Latynse liedjie, Ubi caritas: Ubi caritas et amor, ubi caritas, Deus ibi Est. Waar daar liefde en deernis is, daar is God, die Heer. 

Die teenoorgestelde is seker ook waar. Waar liefde en deernis ontbreek, is God nie teenwoordig nie. Ons maak God onsigbaar vir ander as ons nie Sy liefde uitleef nie. 

So maklik mis ons die bus by die ene. So maklik is ons eenvoudig net te besig om ander se nood raak te sien. So maklik het ons net nie tyd om ’n oomblik te stop, vir iemand te glimlag en ’n appel of iets te gee nie.  

Kom ons maak seker ons mis nie hierdie oomblikke nie. Laat ons die Heilige Gees vra om ons te help om raak te sien en krag te gee om van ons goeters vir ander te gee. Waar daar liefde en deernis is, daar is God, die Heer. 

Teks
1 Johannes 3:11-18 

Om oor na te dink
Sien jy die plekkies raak waar liefde nodig is?
Is deernis heeltyd deel van jou mondering?
Aan wie moet jy liefde en deernis bewys? 

Gebed
Vader, ek weet ek mis baie van die plekkies waar ek liefde en deernis moet uitleef. Laat U Gees my oë en hande oopmaak. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek