God se Woord in vandag se woorde

Waar is ons vreugde dan tog?


Ons is emosionele wesens. God het ons so gemaak. Daarom word ons maklik emosioneel beïnvloed deur die omstandighede om ons. Dit is vir my moeilik om vreugde te ervaar as iemand naby my in pyn is.

Ek kan nie lag wanneer ek weet my vriend het baie seer nie. Ek voel bedruk as my kontantvloei nie uitwerk nie. Ek sukkel om opgeruimd werk toe te gaan as my werkgewer of een van my kollegas my gedurig probeer pootjie. Ek’s ’n mens en op ’n manier is ek nie bly as negatiewe goeters aan my deur kom klop nie.

Wat maak ’n mens dan met die teks as donker wolke so gereeld op die horison verskyn?  16Wees altyd vol blydskap.

Hierdie 4 woorde het nie eintlik enige uitleg nodig om dit verstaanbaar te maak nie. Enige Graad-eentjie sal vir jou presies vertel wat dit beteken. Jy moet bly wees. Vreugde moet uit jou borrel. Jy moet opgewonde wees. Jy moenie kan wag om by die deur uit te gaan en die lewe te gaan stormloop nie. Met ’n vuvuzela in die een hand en jou arm om jou beste pêl staan julle in afwagting om te kyk wat gebeur.

Maar kom ons kom gou vir ’n oomblik terug aarde toe, want vir seker weet ons dat dit nie aldag so is nie. Die lewe wat ek elke dag leef, is te na aan die werklikheid waar vreugde eintlik meer gesteel as uitgedeel word. Kyk om jou, kyk na jouself. Ons kan boeke skryf oor vreugde-diewe. Amper elke dag kan ek en jy ’n storie skryf van blydskap wat wéér by die deur uitgestap het.

Vriende van ons het vir 3 maande alles toegesluit en gaan sendingwerk doen in Jakarta. Hulle is gehoorsame kinders van die Here en ek weet hulle werk hulle arms en bene stompies ter wille van die uitbreiding van die Koninkryk. Maar ek ken hulle en weet dat die blydskapskarretjie ook soms by hulle verbyry. Selfs daar waar hulle alles opoffer vir die werk van ons Vader.

Hoe werk dit? Is Paulus té idealisties? Het hy nie lekker gedink toe hy die sin geskryf het nie? Het hy vir ’n oomblik vergeet van die werklikheid? Of was hy eenvoudig net ’n beter Christen as die res van ons?

Nee, eintlik dink ek daar was nie ’n ou wat meer gekonfronteer was met die vreugde-diewe as hy nie. Hoeveel maal was hy nie vervolg nie? Hoeveel maal was hy nie in die tronk gegooi nie? Paulus ken van donker wolke en stormsterk winde, maar tog sê hy: Wees bly!

Sy geheim lê in vers 18: Wees heeltyd dankbaar teenoor God, wat ook al met julle gebeur. Dan stap julle op die pad wat God vir julle beplan het toe julle in Christus Jesus begin glo het.

Ons moenie toelaat dat die gebeure van die oomblik ons vreugde bepaal nie. Ons moet eerder ons vreugde tap uit wat Jesus Christus vir ons gedoen het.

Anders gestel: Dit wat Jesus vir my aan die kruis gedoen het, moet my so vol vreugde maak, dat wat ookal gebeur, my nie sal onderkry nie. Hier word die werklikheid nie onder die tafel ingestoot en geïgnoreer nie. Nee, juis te midde van die lewe se vreugdeloosheid, kan ek steeds bly wees, want dit maak nie Jesus se kruisdood, die bron van my vreugde, dood nie. Ek is bly, ek loop oor van vreugde oor dit wat Jesus vir my gedoen het.

Tog is hierdie “opdrag”, om deur dik en dun vol blydskap te wees, nie so maklik nie. Ons is maar mens. Maar dalk is ons nog te veel soos babatjies wat te maklik deur die omgewing beïnvloed word. Miskien is ons nog te onvolwasse om te keer dat ons vreugde so maklik gesteel word. Dalk is dit omdat ons te min met God praat. Dalk is dit omdat ons te min glo. Dalk is dit omdat ons al aan ons lyf gevoel het dat God nie eintlik hoor nie.

Miskien moet ons dan juis weer soos ’n klein kindjie word en glo. Miskien moet ons luister as Paulus in vers 17 sê: Praat met die Here elke keer as julle die kans het. Moet nooit moeg word om te bid nie. Hy hoor!

Kom ons maak so!

Teks

1 Tessalonisense 5:16-22

Dink bietjie hieroor

Wat steel jou vreugde?

Waarvoor kan jy dankbaar wees?

Wat kan jy doen om ‘n stukkie van jou dankbaarheid in dade om te sit?

Gebed

Vader, so dikwels word my gemoed swaar omdat my vreugde gesteel word. Ek weet ek praat te min met U. Ek weet ek is te min dankbaar vir alles wat U vir my gee. Ek soek U vrede met my hele wese. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek