Waarheid bring vrede
My swembad lek en ek is mismoedig, want ek het al orals gekyk waar die lek kan wees, maar sonder sukses. Ek bel ’n professionele persoon om te kom help.
Sy manne kry gou die gat en maak dit in ‘n japtrap reg. Die rekening is nogal aan die hoë kant, maar ek gee nie om nie, want ten minste gaan my waterrekening daal.
Wel, my vrou en ek is so opgewonde dat ons per ongeluk albei die rekening betaal. Gelukkig kom ons dit gou agter en vra die professionele man om asseblief ons geld terug te betaal.
Ongelukkig het sy professionaliteit gestop toe ons die dubbel betaling gemaak het, en toe begin hy met lang stories oor wanneer die geld terugbetaal gaan word. Daarna het hy ’n nuwe foon gekry en al ons besonderhede verloor. Nou wag ons steeds op ’n betaling.
Later antwoord hy nie meer my oproepe nie, en ek moet ander mense se fone gebruik om hom in die hande te kry. Sy stories begin later nie meer sin maak nie, en hy verf homself kort-kort in ’n hoek vas.
Uiteindelik is dit al ’n jaar later. Ek besluit om hom by sy fabriek te gaan verras. Dis nogal erg deurmekaar daar. Daar word geraas en geskree. Dit lyk of daar geen rigting is nie … soos ’n hond wat sy eie stert jaag.
Dis wat onwaarheid doen. Onwaarheid skop stof op, sodat ’n mens later nie meer weet in watter rigting jy op pad is nie. En wanneer die stof vir ’n oomblik gaan lê, staan die moeilikheid reg voor jou.
Waarheid werk anders. 2Immers, die waarheid gee vir ons rigting in die lewe. Dit sal altyd so wees. Waarheid skop nie stof op nie. Waarheid maak juis die onduidelikheid duidelik.
Inventing Anna is ’n reeks op Netflix. Anna Sorokin was ’n Russies-gebore vrou wat haar voorgedoen het as ’n Duitse erfgenaam, Anna Delvey. Sy het hoog gevlieg onder die sosiale elite.
Sy het derduisende dollars van hotelle, banke en selfs vriende gesteel, alles deur leuens en bedrog. In 2019 is sy egter skuldig bevind en gevonnis. Al wat haar leuens vir haar gebring het, was gevangenskap.
Vrede bly mense ontwyk. Vreugde is van korte duur, en hulle bly ploeter in verkeerde rigtings.
Dis nie altyd maklik om in die waarheid te bly nie, maar dit bring vrede. Ek maak per ongeluk die motorhuisdeur teen ’n kliënt se motor oop. Daar is ’n skraap. Ek besluit om hom nie te sê nie, want daar is reeds ander skrape ook.
Maar vrede en vreugde het my bly ontwyk, totdat ek die waarheid op die tafel gesit het. Hy het gesê dis eintlik sý fout, omdat hy op die verkeerde plek gestaan het. Skielik het vrede weer sy opwagting gemaak.
Bly in alles altyd in die waarheid.
Teks
2 Johannes 1:1-3
Om oor na te dink
Lewe jy altyd in die waarheid?
Is daar dalk grys areas?
Hoe kan jy in alles in die waarheid lewe?
Gebed
Vader, ek wil in alles die waarheid lewe, maar ek glip hier en daar. Help my om altyd net in die waarheid te lewe. Amen.