God se Woord in vandag se woorde

Waarheid, leuen en ’n slap riem


Mens dink mos ander mense is soos jy. Ons dink ons speel almal die lewe met dieselfde spelreëls en doen die dinge op dieselfde manier, maar dit is nie so nie. Ek het al my vingers so gebrand. 

Toe ek nog by die besigheid was, het mense ’n paar maal met die spreekwoordelike Bybel onder die arm ingekom en nogal die taal van ‘n gelowige gepraat. Al die regte dinge gesê en vertel wat hulle alles in die kerk doen.  

Eintlik moes ek hier al ietsie geruik het, maar ek het die reëls gebuig om my mede-broer in Christus op sy voete te help. Die ander mense het hom darem erg ingeloop, en nou sit hy in nood en op soek na hulp. Met baie beloftes van terugbetaling en so aan.  

Met ’n lang storie het hy toe nie die einde van die maand betaal nie, maar die volgende belofte was gereed. Die keer was die middel van die maand sy belofte aan my. Nog later sou hy betaal as die ander man hom terugbetaal, en so het dit aangegaan.  

Nou ja, daar was elke maand ’n storie. Dit was so sleg vir my om so met ’n slap riem gevang te word. Maar erger was dit om te besef dat almal nie soos ek is waar my ja my ja is nie. 

Die ergste is dat mense met sulke slap rieme nog baie ander vang. Ek wonder hoe slaap sulke mense? Blykbaar heel lekker, want eintlik dink hulle hulle doen nie verkeerd nie. Jy sien, dis ander spelreëls van die lewe waarmee hulle speel.  

Ons reëls werk anders. Toe ons vir Jesus aangeneem het as ons Verlosser, het die Gees Sy intrek geneem. Die eerste ding waaroor Hy beheer geneem het, was ons gewete. 

Wanneer ons té na aan die grense van die lewe kom, gaan daar rooi ligte af om ons te waarsku. Wanneer ons die besluit neem om oor te spring, is daar ’n stemmetjie wat ons probeer stop. 

Dis die Heilige Gees wat ons probeer keer via ons gewete. Dis die stel reëls wat ons help om reg van die verkeerde te onderskei. Johannes sê: 21As ek dié brief skryf, wil ek dus nie maak asof julle nie weet wat waar is nie. Ek beklemtoon net wat julle reeds weet waar en eg is. Onthou, geen enkele leuen kan uit die waarheid gebore word nie. 

Toe die Heilige Gees ingetrek het en ons gewete kom oorneem het, het ons die nuwe stel reëls ontvang. Ek vermoed hier en daar gryp ons nog terug na ons ou manier van lewe.  

Maar ons moenie maak soos die ou wat met die Bybel onder die arm en ’n slap riem ingestap het nie.  Hy sou nooit weer ’n produk uit my gewurg het nie.  

Mag mense wat met ons werk, altyd net die waarheid uit ons mond hoor. ’n Leuen, hoe klein of groot, sit nooit om dieselfde vuur as die Heilige Gees wat net vir die waarheid staan nie. Mag jou ja, die ware ja wees. 

 Teks
1 Johannes 2:18-23 

Om oor na te dink
Staan jy soms met ’n leuen en ’n slap riem in die hand?
Weet jy wanneer dit nie die waarheid is nie?
Wat moet jy doen om in alles die waarheid te praat en te lewe? 

Gebed
Vader, ek wil in alle omstandighede die waarheid lewe. Help my met U Gees om van alle dinge wat nie deel is van U waarheid nie, ontslae te raak. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek