God se Woord in vandag se woorde

Wag en doen


Die lewe is nie maklik nie. Baie keer gaan dit swaar. Ons leer ons moet tot God bid en as dit nie werk nie, moet ons smeek. Dan, sê die mense en natuurlik die Bybel, moet ons geloof hê dat God een of ander tyd vir ons sal voorsien.

Dan moet ons wag. Dan moet ons stilsit en wag dat God Sy ding begin doen in ons lewe. Die vraag is vir hoe lank?

Piet (skuilnaam) is ‘n gelowige wat regtig probeer om binne die wil van God te leef. Hy bid en smeek, maar niks gebeur nie. Vir 45 jare al. Ek verstaan as hy mismoedig is, want vir hoe lank nog, Here?

Vergewe my asseblief maar wat jy preek, gebeur nie in my lewe nie. Ek pleit en smeek oor en oor en oor by God, maar ek sê jou, ek is stoksielalleen en niks, maar niks, gebeur nie. God het van my vergeet – die hel waardeur ek gaan, gaan nie ophou nie. Vanaf 1977 af tot nou, lees ek elke liewe dag die Bybel. Ek is elke dag op my knieë, maar niks nie. Net mooi niks nie …

Ek is so bang vir pleistertjies plak wat te klein is. Ek is so bang ons sit ’n godsdienstige salfie op ’n wond wat net te groot is. Wanneer ’n mens nie self die druk van die wêreld voel nie, is dit maklik om hier van die kantlyn ’n antwoord te slinger.

Dalk help die vers ons nader aan die waarheid: 7Hou moed, my vriende, tot die Here terugkom. Soos ’n goeie boer moet julle nie dinge wil aanjaag nie. ’n Boer wag geduldig tot die oes vol op die lande staan. Hy wag maar vir die reën om te kom, vandat dit aan die begin van die seisoen begin val, totdat die laaste druppel klaar geval het aan die einde van die seisoen. 8Julle moet die geduld van daardie boer hê. Moenie dat iets julle van stryk bring nie. Die Here is op pad na ons toe.

Hou moed, is die eerste opdrag hier. Bly glo soos die boer dat die Vader êrens die krane gaan oopdraai en die reën op die regte tyd gaan bring. Daar is dinge waarop ons nie ’n invloed het nie. Die boer kan nie die reën laat val nie, daarom moet hy maar geduldig wag.

Tog het iets die wag voorafgegaan. Die boer het sy deel gedoen. Hy kan nie wag vir die reën om te val om die saad te laat ontkiem, as die saad nie in die grond is nie. Hy moet sy deel doen.

Hy moet sekermaak dat hy weet wat hy doen. Hy moet sy implemente gereed kry. Hy moet die grond voorberei. Hy moet saai en heel waarskynlik bemesting ook doen. Dan eers kan hy wag vir die oes om gereed te kom.

Ons moet ook ons deel doen. Dalk skiet die boer se voorbeeld van Jakobus hier te kort, want dalk moet ons nog iets doen terwyl ons wag. Wanneer ons wag, wanneer ons op God wag om Sy deel van die saak ’n werklikheid te maak, moet ons vra wat ons nog kan en moet doen.

Baie keer is die wagproses deel van die voorbereiding waar ons Vader ons wil vorm en gereed kry vir die volgende seisoen. Ons weet nie hoe lank dit nog gaan wees nie en daarom bid ek dat ons Vader ons die krag sal gee om te wag en wag en nog te wag en terselfdertyd te kyk waar ons nog iets kan en moet doen.

Teks
Jakobus 5:7-12

Om oor na te dink
Wag jy vir iets?
Hoe lank?
Wat doen jy?

Gebed
Vader, ek sukkel om so lank te wag. Ek verstaan ek moet kyk om ook iets te doen, maar wat? In Jesus se Naam. Amen.

 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek