Ware geloof het goeie dade
Het jy geweet dat demone nie ateïste is nie? Selfs hierdie wesens wat onder die beheer van Satan is, glo in God. Hulle ken God en hulle weet dat hulle moeilikheid klaar by Hom geboek is. Daarom vrees hulle Hom en gaan hulle woes aan die bewe as hulle aan Hom dink.
19Jy is oortuig daarvan dat daar net een God is. Dit is ook so. Maar dié soort geloof red ’n mens nie noodwendig nie – die duiwels is ook oortuig dat God bestaan en al wat dit aan hulle doen, is dat hulle aan die bewe raak wanneer hulle dit besef.
Ons weet dat duiwels en demone net na een plek toe gaan en dit is die hel. Al glo hulle in God, al weet hulle wat Hy vir die mense deur die kruis van Jesus gedoen het, sal hulle nooit die ewige lewe kan beërwe nie.
Geloof in God is dus nie genoeg om ’n mens te red nie. Sodra ’n mens aan iemand moet verduidelik dat jy glo en hulle dit nie in jou dade kan raaksien nie, word daar ernstige vraagtekens agter jou geloof staangemaak.
Ek wonder hoeveel keer moet ’n mens dieselfde ding sê voordat mense luister? Om bloot te sê dat ’n mens glo, is vir seker nie genoeg nie. Om mense deur jou woorde te probeer oortuig dat jy in God glo, is ook nie die regte manier nie.
Dis so eenvoudig. Geloof moet gesien word in die manier waarop jy lewe, anders is die geloof tussen nul en minus een op die skaal. Jakobus is ook nou erg moeg gesukkel met die dwase mense en sê sommer:
20Ai, hoe onnosel is die persoon wat nie wil besef dat geloof in God sonder dat daar ook vir Hom geleef word, nutteloos is nie.
Dalk dink ons dat ons nie eintlik hier deel is van die storie nie, want ons gaan darem gereeld kerk toe en ons lewenswandel is darem nie te vêr van die pad af nie. Ons doen darem nie te veel verkeerd nie.
Maar dis nie genoeg nie. As jy in ’n garage gebore word, is jy nie ’n kar nie. As jy in die kerk grootgeraak het, is jy nie ’n Christen nie. Jy moet Jesus aanneem as jou Verlosser. Jy moet in Hom glo en ja, dan moet jy ook soos ’n Christen begin lewe.
Jy moet die dinge doen wat by ’n Christen pas en jy moet die dinge wat nie by ’n kind van God pas nie, nie doen nie. Eintlik werk jou dade soos ’n spieël en weerkaats dit wat jy regtig glo.
Ons monde loop baie keer op skewe paaie en daarom kan ’n mens nie altyd glo wat mense sê nie, maar hul dade jok bitter min. Dade word aangevuur deur geloof. Dade vertel die stories van geloof.
Daarom, asseblief, maak seker dat jou dade die regte storie vertel. Maak seker dat jy doen en reg doen, want dit is wat ons mos glo. Laat ons geloof saam met die tyre die teer slaan en ’n verskil maak orals waar ons gaan.
Teks
Jakobus 2:14-26
Om oor na te dink
Glo jy?
Wys jou geloof?
Hoe moet jy anders doen?
Gebed
Vader, ek besef dat ek soms nie reg lewe nie. Mense kan nie altyd my geloof raaksien nie. Soms leef ek eintlik die teenoorgestelde as wat ek glo. Vergewe my en help my om reg te lewe. In Jesus se Naam. Amen.