God se Woord in vandag se woorde

Wat jy doen, spreek so hard, ek kan nie eers hoor wat jy sê nie


Ek het my dae in die markplein verskriklik baie geniet en dit was vir my lekker om ander mense en hul bedienings te help. Nie dat dit vandag enigsins verander het nie. Elkeen van ons het mos ’n verantwoordelikheid om ander te seën en van ons seëninge aan te pass.  

Wat wel vir my verander het, was dat ons nou afhanklik was van ander se seëning vir ons salaris aan die einde van die maand. Wel, meer as net die salarisse, maar ook al die ander uitgawes om so ’n groot bediening aan die rol te hou. 

Ek het egter gou besef dat dit die manier is wat God voorsien. Toe Hy ons geroep het, het ons vrede gekry dat Hy wel sal voorsien. En Hy voorsien elke maand, waarvoor ons so dankbaar is.  

Hy doen dit op verskillende manier. Ek het al vertel van my vriend in Gauteng wat sê as hy my daar vang in ’n gehuurde kar, gaan hy my foeter. So kry ons een keer sommer ’n Mercedes ML 500. Sjoe, ek het sommer soos ’n koning gevoel. Renata wou net by die sunroof uitstaan en vir almal waai.  

Ek bel hom om dankie te sê en hy vra my of die petrolkaart in die voertuig is. Kan jy dit glo? Nog ’n petrolkaart ook. Ek sê ja. Hy sê toe ek moet dit Kaap toe vat en tot die einde van die jaar die Ford vol diesel maak. 

Hy is ’n Toyota man en trek altyd my been oor my bakkie. Hy sê toe skertsend: “Dis net vir diesel en nie vir olie vir die Ford nie.”  

Dis hoe die Here prakties in ons behoeftes voorsien. Deur Sy kinders. Die tjommie van my is nie vol woorde nie, maar met sy dade vertel hy lang stories. Deur sy dade kan jy sien waar sy geloof lê.  

Iemand stuur eendag vir my hierdie quote: “Wat jy doen, spreek so hard, ek kan nie eers hoor wat jy sê nie”. Dis nogal waar van my vriend. Hy het eintlik nie nodig om te praat nie, sy dade praat genoeg.  

18My liewe kinders, ons liefde moenie net uit ’n gepraat bestaan nie. Dit moet in dade uitgeleef word. Dit is wat iemand doen vir wie God se waarheid belangrik is. 

Watter beter voorbeeld as die Toyota-ryende vriend van my? 

Dan wonder ek wat ander van my sê? Kan mens ook deur my dade sien dat ek ’n kind van God is, of moet ek eers my mond oopmaak of mooi geestelike goedjies op my WhatsApp groepe post? 

Laat ons plekkies soek waar ons ons geloof kan gaan wys, waar ons met dade God se hande en voete kan wees. Dalk is die plekkie sommer net om die draai. Jy het dit net nog nie raakgesien nie.  

Daar is ’n rede hoekom ons elke keer herinner word aan die een, want ons vergeet so maklik. Ons raak so gemaklik in ons eie lewe dat ons vergeet dat God die wêreld anders wil maak en daarvoor wil Hy Toyota-ryende, Ford-ryende, wel eintlik alle mense of hulle nou ry, sit of stap, gebruik. Kom ons maak hierdie deel van ons mondering, want as ons almal dit regkry, sal die wêreld vir seker anders lyk! 

Teks
1 Johannes 3:11-18 

Om oor na te dink
Hoor ander jou geloof of sien hulle dit?
Waar moet jy jou geloof meer prakties en sigbaar uitleef?
Wie moet dit voel? 

Gebed
Here, ek ken eintlik die ene en weet te goed dat ander my geloof moet sien. Ek sukkel nogals baie daarmee en daarom wonder ek of die Heilige Gees my nie kan help hierin nie? Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek