God se Woord in vandag se woorde

Wat ruik die mense by jou?


Ons vat die pad na Vredendal om samesprekings te gaan voer met ’n gemeente. Wat dit presies beteken weet ek nie, maar ons was die naweek daar en het lekker saam met hulle potjiekos geëet, basaar gehou en sommer net lekker gekuier.

Op pad terug stop ons by Piketberg se Spur waar ons vinnig oor die naweek se ervarings praat. Oor een ding is almal dit eens: Dat die klomp Vredendallers darem baie gasvry is en niks sal in hulle pad staan om alles vir jou so lekker as moontlik te maak nie.

Hulle het die volgende vers lewend gemaak: 6Dit moet ook altyd vir mense lekker wees om met julle te gesels. Na elke gesprek moet hulle voel dat dit die moeite werd was. So ’n ingesteldheid sal julle help om te weet in watter rigting om gesprekke te stuur en wat om volgende te sê.

Die mense het net mooi geen moeite ontsien om dit vir ons lekker te maak nie. Hulle het ons op die hande gedra. Hoe kry die plattelandse mense dit so maklik reg? Ek dink dit is omdat die omstandighede waarin hulle lewe hulle geleer het om eerste aan die ander mens met sy of haar behoeftes te dink as om eerste aan hulle self te dink. Hulle weet dat hulle van mekaar afhanklik is vir oorlewing en daarom druk hulle eers hulle eie behoeftes so bietjie onder die kombers in en gee eers aandag aan joune.

Met watter gevoel stap ander mense weg wanneer hulle met jou in aanraking was?

Dit is ook belangrik om in al jou optredes en wat jy sê 100% eerlik te wees. Moenie ’n masker opsit nie. Moenie plastiek wees nie. Nee, wees net jouself. Die mense sal jou eerder liefkry soos jy is as wat hulle moet soek na die ware jy tussen al die toneelspel.

Wees eerlik in jou bedoelings. Sien die persoon as nog ’n geliefde kind van God en hanteer hom of haar dienooreenkomstig. Maak nie saak hoe die persoon teenoor jou optree nie. En dit is die moeilikste. Wanneer ’n ander persoon nors of ongeskik is, wanneer ’n ander persoon net aan hom of haarself dink, wanneer so ’n persoon op die oorlogspad is, om juis dán só op te tree dat die persoon daar wegstap met ’n positiewe gevoel oor jou en sommer oor hom of haarself ook!

Trek jy mense aan of stoot jy hulle weg? Wil mense graag in jou teenwoordigheid wees of hou hulle op om te gesels as jy daar by hulle kringetjie aansluit?

Vandag se opdrag moet ons gaan inoefen. Ons moet gaan kyk wat doen ons verkeerd en hoekom wil mense nie altyd langs ons staan en kuier nie. Lewe só dat jy ’n aangename geur versprei tussen ander mense.

Leef só dat wanneer mense wegstap van jou, hulle ’n spesiale ervaring sal hê. Leef só dat ander mense ’n stuk van God se liefde sal kan saamneem nadat hulle met jou gesels het. En verseker ook hier by die mense naby aan jou!

’n Omroeper van ’n Kaapse radiostasie sluit altyd soos volg af: Dis lekker om mens te wees, wees net ’n lekker mens. Mag dit waar wees van elkeen van ons as kinders van God. Mag dit lekker ruik orals waar ons gaan.

Teks
Kolossense 4:2-6

Om oor na te dink
Is dit lekker vir ander mense om by jou te wees?
Wat moet jy verander om dit nog lekkerder vir ander te maak om by jou te wees?

Gebed
Vader, help my om ’n lekker mens te wees met wie ander graag wil gesels. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek