Wees content
Almal weet van die oorlog tussen Rusland en Oekraïne. Dit is op elke nuuskanaal. Maar weet jy dat daar in Afghanistan, Ethiopië, Jemen en Saoedi-Arabië burgeroorloë aan die gang is? Dan is daar by die 20 ander lande wat ook in oorloë gewikkel is, hoofsaaklik teen terroriste of dwelmsindikate.
Dit lyk rof in die wêreld en ons sidder en wonder hoe gaan dit lyk as die groot moondhede van die wêreld mekaar gryp.
In ons eie land is daar ook oorloë aan die gang. Die regering het oorlog verklaar teen die mense wat so korrup is. Die dorpsbewoners het oorlog verklaar teen die munisipaliteite wat niks doen nie en net kyk hoe die infrastruktuur uitmekaarval.
In baie huwelike heers daar ’n oorlog en ons weet dat daar nie eintlik wenners uit ’n oorlog stap nie. Dalk is jy self nou aan die veg in een of ander verhouding wat net nie lekker wil loop nie.
Ek besef maar net weer hoe die wêreld vrede nodig het. Die wêreld smag na vredemakers. Keer op keer gaan sit Rusland en Oekraïne om ’n tafel met vrede-praatjies, maar ai, daar kan net nie tot ’n vergelyk gekom word nie.
Die netto-effek is dat miljoene mense ontwortel is, dorpe platgevee word en daar massagrafte gegrawe word.
Die wêreld smag na vrede. Vrede is die saadjie wat mense se lewens ingrypend kan verander. Sê nou maar net die vredemakers om die tafel daar in Rusland kom tot ’n vergelyk en hulle kry dit reg om ’n saadjie van vrede te plant. Hoe wonderlik sal dit nie vir miljoene mense wees nie? Miljoene mense wat weer kan terugkeer na menslikheid en ’n normale lewe!
En dit is eintlik presies wat elke Christen moet doen: 17Maar as ’n mens leef soos God dit in sy wysheid bedoel het, sal jou lewe heeltemal anders lyk. Dit sal ’n lewe wees waarop die sonde geen houvas het nie. So iemand sal in vrede met ander mense saamleef.
Of soos die 1983-vertaling sê: Ons moet vredeliewend wees. Ons moet lief wees vir vrede en dit orals saam met ons neem. Daar waar mense in hulle huwelike of ander verhoudings besig is om oorlog te maak, moet ons wat die vrede liefhet en aanhang en store vol het, dit gaan saai. Êrens sal die saad opkom.
Die Engelse woord, content, kom lê in my gedagtes. Die definisie is: in a state of peaceful happiness, ’n toestand van vreedsame geluk. En dit is wat ons wat kinders van God is, moet najaag. Ons moet vrede najaag, sodat daar weer vreugde in ons onmiddellike omgewing kan heers.
As ons almal net daar waar ons lewe die oorlogsones gaan opsoek en ’n saadjie van vrede gaan saai, kan mense se lewens handomkeer verander. Mag ons hierdie opdrag ernstig opneem, sodat vreugde orals sy blyplekkie in ons almal se lewens kom maak.
Teks
Jakobus 3:13-18
Om oor na te dink
Waar is daar oorloë in jou lewe?
Waar kan jy vrede gaan saai?
Hoe moet jy dit doen?
Gebed
Vader, baie dankie dat ek ook ’n roeping het. Ek weet nie altyd presies hoe om dit uit te leef nie, maar ek gaan plekkies soek waar ek vrede kan saai. Gee my die wysheid. In Jesus se Naam. Amen.