Wees ’n goeie werker
As ek terugkyk oor my lewe, was ek baie bevoorreg om goeie werke en goeie werksomstandighede te kon hê. Orals waar ek gewerk het, het ek gewerk asof dit my besigheid was.
Selfs op die plase waar ek geboer het, het ek gewerk asof dit my plaas was. Daar was nooit ’n inval- of uitvaltyd vir my nie. As ons deur die nag moes werk, was ek voor in die koor en die res het agterna met flitse gekom.
Maar reg in die begin van my loopbaan in die markplein, was dit nie altyd so nie. Ek het gewerk onder iemand wat nie ’n lekker persoon was nie. Hoe harder ek gewerk het, hoe slegter is ek gesê.
Later besef ’n mens dat die baas een of ander minderwaardigheidsgevoel rondsleep en nou moet jy pa staan vir sy gebrek. Alles wat verkeerd loop, is jou skuld. Ek het gebuk gegaan onder erge druk en later kon ek dit net nie meer hou nie.
18Julle wat vir ander werk, luister na hulle. Wees goeie werkers en behandel julle meerderes met respek. Dit word nie net van julle verwag as julle werkgewers goed is en julle help nie, maar ook as hulle julle sleg behandel, veral as hulle julle treiter omdat julle Christene is.
Wanneer ’n mens in lekker omstandighede werk, is dit maklik om opdragte uit te voer. Wanneer jou werkgewer jou harde werk raaksien en jou daarvoor beloon, wil ’n mens mos harder werk en jou beste gee.
Die uitdaging kom wanneer die omstandighede nie so goed is nie. Wanneer die baas jou onregverdig behandel of net nie jou harde werk raaksien nie. Of selfs as daar ’n toksiese atmosfeer is en almal op eiers loop.
Dan is dit nie so maklik om jou lig te laat skyn nie. Deesdae word ’n mens sommer verbied om jou status as Christen bekend te maak en mag jy nie eers jou lig aanskakel nie. Dan is dit nie maklik om elke oggend positief werk toe te gaan nie.
Tog word daar van ons Christene verwag om in alle omstandighede goeie werkers te wees en selfs die mense wat jou aftakel met respek te behandel.
Lina (skuilnaam) vertel dat sy vir 23 jaar onder ’n baas gewerk het wat almal hel gegee het:
Ek het na 2 jaar vir hom begin bid, want ek was so bang om selfs net boodskappe aan hom oor te dra. Dit het ‘n tydjie geneem, maar hy het wel verander.
Van ‘n bombastiese, elke dag vloek en mense sleg maak, het hy mettertyd verander en met my begin gesels oor dieper dinge en hy het my toegelaat om ook dinge uit te lig waar hy verkeerd opgetree het.
Die afgelope 4 jaar het hy selfs begin kerk toe gaan, maar ek mag dit vir niemand gesê het nie.
As jy swaar kry by die werk, wil God jou dalk juis daar gebruik. Al gaan dit rof, wees ’n goeie werker en bid dat God jou getuienis sal gebruik om ander te verander.
Teks
1 Petrus 2:18-21
Om oor na te dink
Waar pla dit by die werk?
Waar moet jy ander optree?
Vir wie moet jy bid?
Gebed
Vader, dis nie altyd maklik om kind van U te wees nie. Help my, asseblief, en gee my krag en die vrymoedigheid om U lig te alle tye te laat skyn in donker omstandighede rondom my. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.