Wees net ’n lekker mens
Terwyl jy hierdie stuk lees, word daar 20 vrouens in Amerika fisiek in die huwelik mishandel. Om nie eers te praat van die vrouens wat verbaal mishandel word nie. Een uit vier vrouens en een uit sewe mans was al slagoffers van ernstige fisieke geweld deur ’n intieme maat.
As jy vier getroude mansvriende of sewe getroude vriendinne het, is die kans goed dat een van hulle agter die stuur van verwoesting van hul huweliksmaat staan.
Dis skokkend.
Ek en ’n vriend ry Suid-Kaap toe en ek gesels met hom oor iets wat swaar op my hart druk. Een van my vriende is besig om goed droog te maak en ek wonder of ek iets moet sê? My vriend is duidelik: Vriende het ’n verantwoordelikheid teenoor mekaar om mekaar te help en by te staan, maar ook aan te spreek as hulle droogmaak.
Veral in huwelike. Of my vriend my bedoeling om hom te help, gaan aanvaar, bly natuurlik ’n ope vraag. Ek wonder of ons vriendskap die toets gaan deurstaan as ek vir hom sê hy maak nie reg nie. Aan die ander kant, wil ek ‘n vriend hê wat nie wil aangespreek word as hy op die verkeerde pad is nie?
Die opdrag is eenvoudig en eintlik nie moeilik om uit te leef nie: 7Net so moet ’n man hom goed gedra in sy gesin. Jy moet altyd mooi optree teenoor jou vrou en haar nie seermaak of ongeskik met haar wees nie.
Net soos die aanmoediging vir vrouens in die vorige gedeeltes ook op mans van toepassing is, is hierdie aanmoediging aan mans ook van toepassing op vrouens. Laat jou optrede sonskyn bring en nie donderweer nie.
’n Omroeper op Bokradio het altyd haar program geëindig met: Dis lekker om ’n mens te wees, wees net ’n lekker mens! Ja! Wanneer jy jou gedra in die huwelik, wanneer jy te alle tye mooi optree en nie ongeskik is nie, is dit vir ander baie lekker om saam met jou te lewe.
’n Gesonde huwelik stuur gesonde kinders die samelewing in. Die huwelik is die kweekhuis waar kinders geleer word hoe om gebalanseerd en met respek vir ons medemens te gaan leef.
Die teenoorgestelde is natuurlik ongelukkig ook waar.
So maklik laat ons toe dat daar gate in ons huwelik se mure kom. Ons stop ons eie salarisse vol met stoporders wat elke maand meedoënloos afgaan. Dan moet ons nóg harder werk en nóg minder tyd by die huis deurbring.
Ons laat toe dat die duiwel torring aan ons emosies en vir elke spoedbult in die huwelik val daar goeters uit die pot tot die dag wat ons wakker raak langs ’n vreemdeling in die bed. Dis vir party soms genoeg rede dat elkeen sy eie paadjie stap, of is dit strompel?
Nee man! En vrou. Kom ons pak die een by die horings. Stop jou nonsense en gedra jou in die huwelik. Tree mooi op teenoor mekaar. Moenie deel word van die statistieke nie. Wees tog net ’n lekker mens!
Teks
1 Petrus 3:1-7
Om oor na te dink
Waar tree jy nie reg op nie?
Waar moet jy meer energie spandeer?
Is daar dalk iemand wat jy weet jy moet reghelp?
Gebed
Vader, ek wil vir ander regtig ’n lekker mens wees. Ek wil ander laat lag en goed voel oor hulleself. Dit is wat ek nou gaan doen. Help my asseblief daarmee. Amen.