Weet vir seker
Toe ons in grendeltyd was, is ons almal wat by die huis spin, uitgedaag om ’n 100 km in ’n sekere tyd af te lê. Vir almal wat dit regkry, sou iemand ’n groot donasie vir die dorp se sopkombuis skenk.
Ek het my hand opgesteek en begin trap dat die sop (oftewel sweet) spat! Êrens langs die pad het die meter oorgeslaan en ek het nie gekyk hoeveel kilometer ek reeds getrap het nie. Ek sou die totaal eers aan die einde sien.
Ek was so bang ek doen al die trapwerk en bereik nie die 100 km-wenstreep nie. Sodra ek dink ek is seker darem nou verby, trap ek nog ’n ent. Die onsekerheid was nie lekker nie.
Op ’n manier was die mense wat in die ou tyd afhanklik was van diereoffers om ontslae te raak van hulle sondes, seker ook so onseker. Het ek nou genoeg geoffer om ontslae te raak van die skuld van al die sondes wat ek gedoen het? Was die koei groot genoeg? Het daar genoeg bloed gevloei? Gaan ek die groen lig kry om by die hemel in te stap, of dalk ’n rooie?
Die onsekerheid sou my teen die berge uitgedryf het. Dit sou my vreugde steel. Dit sou ’n handbriek op my lewe wees.
Hierdie onsekerheid het Jesus eens en vir altyd uit die weg kom ruim: 19My liewe vriende, ons hoef nou nie meer onseker of bang te wees om na God toe te gaan waar Hy in die Heiligste deel is nie. Ons kan dit doen omdat Jesus vir ons gesterf het.
Ek en jy kan vir seker weet dat ons die hemel kan instap. Die oorspronklike Griekse woord wat hier gebruik word, is parrhēsia, wat in Engels vertaal kan word met boldness. Ons kan nou met volle sekerheid die nuus deel met enige iemand wat wil hoor waarheen ons eendag gaan as ons klaar met ons lewe hier op aarde is. Daar hoef geen krummel van onsekerheid in ons te wees of ons hemel toe gaan of nie.
Na die onsekerheid op die spinfiets of ek dit gemaak het, het ek op die ou end amper 15 km te vêr getrap. En eintlik was dit onnodig.
Nou dat ons vir seker weet dat Jesus se dood dit vir ons moontlik maak om in die hemel in te gaan, hoef ons nie onnodige energie te mors om nog ’n koei te slag of onnodige bloed te laat vloei nie.
Ons kan nou eerder al dié energie gebruik om ander te wys en te vertel, sodat hulle ook met sekerheid kan weet waarheen hulle op pad is. Al maak mense dit af as niks nie, al sê mense hulle glo nie, wonder hulle tog ook oor die lewe hierna. Wanneer hulle alleen in die bed lê, in sy eie hoekie vasgevang is, pop daar tog ’n vragie op: Sê nou maar net daar is ’n God wat op my wag as ek vir die laaste keer my kop neerlê?
Kom ons help die ouens en wys hulle hoe rustig ons is oor wat hierna gebeur. Gaan praat met boldness oor jou paadjie wat vir seker op die regte pad gaan eindig.
Teks
Hebreërs 10:19-25
Om oor na te dink
Twyfel jy soms of jou sonde te veel is?
Hoe kan jy van die twyfel ontslae raak?
Hoe kan jy dit gaan uitleef?
Gebed
Jesus, dankie dat ek nie bang hoef te wees nie. Dankie dat U sterwe aan die kruis selfs vir al my sondes genoeg was. Help my om as ware verloste daar buite te gaan leef. Amen.