Wenners deur ons swaar
Paulus het soms swaargekry. Die doring wat in sy vlees vasgesit het, het hom by tye hard geboks. Getrou aan sy aard het Paulus so bietjie in opstand gekom en met God hieroor geworstel. En getrou aan God se aard, kom wys Hy vir Paulus hoe die dinge inmekaar steek. God sê ook vir Paulus dat Hy genoeg is vir hom. Paulus snap die groter prentjie met dankbaarheid en kry vrede oor die dorings en die swaar wat hy so moet saamsleep.
Nee, Paulus kry nie net vrede nie. Dit word ook sy krag. Die feit dat hy soms so swaar moet sleep, gee nou vir hom energie en moed om aan te hou en nie tou op te gooi nie. Hoor net hoe mooi is sy getuienis: 10Na hierdie antwoord van die Here het hierdie doring in my vel skielik die krag in my lewe geword. Ek het ontdek dat swaarkry en swakhede deel van die Here se plan met my lewe is… Weet julle, ek is glad nie meer omgekrap oor my swakhede en probleme nie. Wanneer mense my slegsê, wanneer ek mishandel word, wanneer ongelowiges my vervolg, of wanneer ek bang en benoud is omdat ek vir Christus werk, is ek doodtevrede. Want wanneer ek swak is, is ek juis sterk. My eie swakheid leer my om net op Christus se groot krag staat te maak.
Is daar plekke waar jy swaar trek? Wonder jy ook hoe die groter prentjie lyk? Wonder jy ook soms waar God is? God is besig met ’n plan in jou lewe. Nee, ek sê nie Hy is die een wat die klippe in jou pad rol nie. Baie van die swaar wat oor ons kom, is soos die Engelsman sê: Self-inflicted. Sommige is weer deur ander veroorsaak. Sommige net bloot onverstaanbaar. God gebruik egter hierdie omstandighede om in die proses so bietjie aan ons te timmer. Op die ou end word dit ’n krag in ons lewe en nie net baat God se Koninkryk daarby nie, maar onsself ook.
Dalk maak dit nie vir jou sin nie. Dalk kan jy nie sien hoe die omstandighede waarin jy nou is enigsins vir iemand kan help nie. Inteendeel. Maar tog moet jy soos Paulus probeer om die groter prentjie te sien en as jy niks sien nie, vra God om vir jou die prentjie te wys.
Dit is nie altyd maklik om met ’n glimlag op jou gesig te loop as die lewe jou van alle kante af druk nie. Dit is ook nie altyd maklik om jou geloof in die stryd tussen lewe en dood te behou nie. Tog weet God dit. Ons kan dit reguit na Hom neem, want dit is juis hier waar ons swak is, waar die lewe die dooie dinges uit ons gedruk het, waar God se krag opstaan. Baie keer is dit juis ons wat eers moet gaan lê, alles los en sê: Here, ek dink dis nou ’n goeie tyd vir U om U krag te kom wys, want ek is nou eers klaar. Ek is moeg en kan nie meer nie.
As ek dan die teks en voorbeeld van Paulus reg verstaan, is dit dán die tyd wanneer God met sy krag toetree. Dan draai die negatief om in ’n positief.
Ja, die negatief gaan nie soseer in die lug verdwyn nie, maar ons weet dat God dit tot sy eer sal gebruik. Mense sal anders wees, want God sal kragtig deur ons en ons swaar werk.
Mag dit so wees.
Teks
Om oor na te dink
Is daar plekke waar jy swaar trek?
Wonder jy ook hoe die groter prentjie lyk?
Wonder jy ook soms waar God is?
Gebed
Here, hierdie stuk is nie so maklik nie, want eintlik wil ek hê dat die swaar en seer net moet verdwyn. Here, eintlik kan ek nie meer nie. Kom met U krag en wees sterk, want ek is nou te moeg en seer en swak. Amen