Werk met goeie vrugte
(Soos jy seker agtergekom het, sukkel ons weer met ons e-pos stuurtprogram. Die IT manne werk daaraan.)
Die Jode het ’n spreekwoord wat sê dat as jy jou kind nie ’n ambag aanleer nie, dan leer jy hom of haar om te steel.
In enige land waar die werkloosheidsyfer hoog is, is diefstal ook hoog. Mense moet eet en as hy nie werk het om kos te koop nie, gaan hy verkeerde planne maak om sy maag vol te maak.
14Sê ook vir die gelowiges om self te werk vir hulle eie brood. Deur goeie werk moet hulle in hul eie lewensbehoeftes voorsien. Hulle moet soos bome wees wat goeie vrugte vir die Here dra.
Dit is elkeen van ons se verantwoordelikheid om seker te maak ons het ’n werk. Maar die verantwoordelikheid hou nie hier op nie. Ons, as kinders van God, moet die wêreld wys hoe ’n mens jou werk goed doen. Ek het die afgelope tyd weer vasgeloop in die woord, uitmuntendheid (“excellence”).
Dit was seker omdat ek so mismoedig was met die manne wat my plaveisel voor die motorhuis moes kom regtrek. ’n Werkie wat drie dae moes vat, het hulle ’n week geneem. Hulle moes twee keer die stene optel, want dit het na verkeerde kant toe geval. Die eindproduk lyk nie lekker nie.
Hier is geen teken van uitmuntendheid nie. Inteendeel!
Ons wat kinders van God is, moet werk vir ons geld, maar dan moet die vrug wat ons dra van hoë kwaliteit wees. Al is die omstandighede nie gunstig nie, al haal die baas alles op jou uit, al kyk ander op jou neer, mag ons nie wegkruip nie. Nee, ons moet voorloop. Ons moet hard werk en seker maak dat ons werk van hoë gehalte is. Want so ontvang God die eer. Al voel dit nie altyd so nie.
Die verhaal van die vyeboom wat nie vrug gedra het nie, skuif verby my oë. ’n Vyeboom is in die wêreld om vye te dra. Lekker vye waaraan mens kan smul. Maar as ’n vyeboom nie vrug dra nie, is daar geen nut vir hom nie. Dan drink dit net die ander bome se water op. Daar is geen ander keuse as om dit maar uit te ruk en ’n ander boom kans te gee om in sy plek te groei nie.
Daarom moet ons Christene kort-kort vra hoe die vrugte lyk wat ons by die werk dra. Is dit lekker vir die mense rondom ons om na ons vrugte te kyk en daaraan te smul? Of is die vrug maar min en niemand lus vir die vrot vrugte nie? Soos die manne wat die plaveisel hier by my gelê het.
Indien ons vrugte ook soos daardie ouens s’n lyk, moet ons weet dat sulke vrugte nie by kinders van God pas nie. Ons sal iets daaraan moet doen. Ons sal moet kyk wat die oorsaak van ons swak vrugte is en daadwerklik aan die werk spring om dit te verander.
Mag God se Gees ons help om ons werk goed te doen. Of dit nou werk vir ’n baas is en of ons nou vir ons kliënte werk. Mag die vrugte wat uit ons boom voortgebring word, goed en lekker wees. En mag God se Naam daardeur groter en meer sigbaar in ons wêreld word.
Teks
Tit 3:12-15
Om oor na te dink
Is jy gelukkig by jou werk?
Is ander gelukkig met jou werk?
Hoe lyk jou werksboom se vrugte?
Gebed
Vader, dankie dat ek kan werk. Help my om goeie vrugte te dra, al gaan dit nie aldag so goed nie. Help my om U Naam deur my werk te verheerlik. In Jesus se Naam, amen.