God se Woord in vandag se woorde

Wie sien mense in jou raak


Partykeer maak ons eenvoudige waarhede onnodig ingewikkeld. Ons koppe raak vasgedraai as dit by die Heilige Gees en Jesus se werk in ons lewe kom. Maar eintlik is dit eenvoudig: as jy Jesus aanvaar as jou Verlosser en met jou hele hart glo dat Hy vir jou sondes in jou plek aan die kruis gesterf het, dan ontvang jy die Heilige Gees. 

Ek deel graag Riana (skuilnaam) se pad met die Heilige Gees: 

Die afgelope 10 jaar stap die Here ’n baie spesiale pad met my en my gesin. In Afrikaans word ek in my spore gestop en in ’n dialoog, vraag-antwoord styl, praat die Heilige Gees hardop met my.  

Dit het ons lewens totaal verander. Dit het vele ander mense se lewens verander. Kinders se lewens verander. Spesifiek hoërskoolkinders.  

Die Heilige Gees het my gevra om Sy boodskap na hoërskole te neem. Die een waenhuisdeur na die ander het wyd oopgegooi, met die absoluut wonderlikste ervarings daarmee saam.  

Hy het presies vir my gesê wat ek moet sê en hoe ek dit moet aanbied. Die Here se seën hierop slaan my onderstebo! Ek is elke keer emosioneel as ek hieroor praat. Sy genade is onbeskryflik groot!  

Swaarkry en groot skrik het ons oë oopgemaak. Ek en my gesin het geleer om só stil by Jesus se voete te gaan sit, elke dag, hart-betrokke by Sỳ wil vir ons lewe te wees, dat Hy sonder enige twyfel daardie pad duidelik uitspel.  

Die Heilige Gees lê iets so duidelik op my hart, bevestig dit oor en oor, totdat ek oortuig is daarvan. En dan slaan my asem altyd weg, en ek lag sommer kliphard, as dinge voor my oopval, en ek net kan vorentoe stap en Sy wil uitvoer.  

Ongeag of die president weer droogmaak, of die rand verder val, of Suid-Afrika en Europa se stelsels inmekaar stort, God se Koninkryk gaan voort deur ons wat daagliks Sy dissipels is.  

Ek kyk met ’n ander oog na alles, en stap hand-aan-hand met God wat van my gehoorsaamheid vra. En dis ‘n avontuur duisend!  

Dis so ’n wonderlike storie van iemand wat in die voetspore van die Heilige Gees van God stap. Vir seker weet ons wie in beheer van haar lewe is.  Ja, ons elkeen het ons eie manier van stap met die Gees, wanneer ons erken dat Jesus ons Here is.  

2Ons kan die Gees van God só uitken: iemand wat nie bang is om vir seker te sê dat Jesus Christus mens van vlees en bloed geword het nie, het die Gees wat van God af kom. 

Laat ons net seker maak dat mense wel die Gees van God in ons lewens herken. Laat ons manier van lewe ander mense nuuskierig maak vir die werking van die Gees, sodat hulle Hom ook deel wil maak van hul lewe.  

Laat ons gereed staan om ander te vertel van Jesus se verlossingsdaad, sodat dit vir die Gees maklik is om hulle te oortuig en Sy intrek in hulle lewens te neem.  

Teks
1 Johannes 4:1-7 

Om oor na te dink
Het ek al Jesus as my Verlosser aanvaar en glo ek met my hele hart in wat Hy vir my gedoen het?
Vertrou ek dat die Heilige Gees werklik in my leef en werk?
Maak ek my geloof onnodig ingewikkeld, of vertrou ek eenvoudig op God se waarheid? 

Gebed
Heilige Gees, dankie dat U in my woon. Help my om U meer sigbaar te maak vir die mense rondom my. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek