Wortel en tak
’n Mens moenie die duiwel te veel eer gee nie, maar daar is een ding waarvan jy hom nooit sal kan beskuldig nie – die ou is nie lui nie. Die spreekwoord: Daar is geen lui haar op sy kop nie, geld vir seker ook vir hom.
Ek vermoed die ou is ook nie te dom nie, want as ek rondom my kyk na mense wat verkeerde keuses gemaak het en ek sien hoeveel verwoesting hulle verkeerde keuses gesaai het, besef ek die ou is ’n bobaasversoeker.
Kom ons wees nou maar eerlik. Êrens in ons mondering is daar ’n swak plekkie. Sommige kan net nie verby die yskas of blik met soetgoed stap nie. Dis mos asof dit ons naam ken en sodra ons daar verbystap, hoor ons die geroep.
Ander se oë loer rond. Sommer in die loop op straat is hulle oë soos ’n motor sonder remme. En dis nie lank nie of sy gedagtes en stories in sy kop krap dinge deurmekaar. Sonder enige keer.
Dis nie meer maklik om staande te bly nie. Die duiwel weet sommige sal hy nie agter ge-blur-de prentjies vang nie, maar dalk is die geldwolf of magswolf hulle swak plekkie. Dalk is joune die voggies wat net té lekker loop.
Tog is dit nie nuut nie. Reeds vanaf die tuin van Eden, met die val van die mense, is die duiwel aan die woel en moet die mens bontstaan om nie vir sy versoekings te val nie. Sommige kon die val net nie keer nie.
In ’n stadium was dit so erg en was die wêreld so deurtrek van die sonde, dat God besluit het om van vooraf te begin. Hy het alles verwoes en net vir Noag en sy familie op hul bootjie gered.
5God het ook nie die wêreld daar in die ou dae met hulle verkeerde dade laat wegkom nie. Hy het toe die hele sondige wêreld in water laat vergaan.
Selfs stede wat tot in die wortel verrot was, het God met wortel en tak uitgeroei. 6God het Sodom en Gomorra ook veroordeel en met die aarde gelyk gemaak. Hulle dien as ’n voorbeeld van die soort oordeel wat God sal laat neerkom op almal wat sonder Hom leef.
Hierdie is so bietjie van ’n wakeup call. God kom op ’n punt waar genoeg genoeg is, dan maak Hy skoon. Daarom, laat ons na ons eie lewens kyk en sommer self uitroei wat vrot is. Ruk die vrot met wortel en tak uit en versterk jou swak plekke en bly staande in God se lig.
Teks
2 Petrus 2:4-8
Om oor na te dink
Waar is jou swak plekkie?
Hoe gaan jy dit met wortel en tak uitroei?
Is daar iemand wat jou hiermee kan help?
Gebed
Vader, ja, ons is sondig en glip en gly gereeld. Dis die tye wanneer ons ons doof hou vir die stem van U Heilige Gees. Maak ons asseblief sensitief om in gehoorsaamheid op U Woord en stem te reageer. Ons vra dit in Jesus se Naam. Amen.