Wysheid afrigters orals op ons pad
As ’n mens jonk en wild is, dink jy mos jy het alles in pag. Jy sal maklik iemand aanvat wat nie soos jy dink en doen nie. Eintlik wens jy dat almal soos jy is, want dan sal die wêreld ’n baie beter plek wees.
Maar hoe ouer ’n mens word, besef jy dat jy nie al die kennis in pag het nie. Eintlik besef ’n mens dan al jou tekortkominge. As ek so terugkyk op my lewe sien ek hoeveel keer ek die pot mis gesit het. Ek sien die skade aan my tone wat ek so gereeld gestamp het en die ergste is die klomp seer wat ek agtergelaat het.
Die spreekwoord – wysheid kom met die grysheid – maak nou baie meer sin as ooit tevore. Dis deur die foute wat ons maak wat ons leer waar ons moet stap en waar ons eerder moet wegbly. Wat ek verder geleer het, is dat ek nie op my eie kan leer nie. Daarom die voorstel: 16… Leer mekaar wat reg en verkeerd is. Of soos dit in die 1983-vertaling staan: Leer en onderrig mekaar met alle wysheid.
As jong voortvarendes wil ons vir al die ander leer sonder dat ons besef dat dit juis ons is wat by die ander moet leer. Dan mis ’n mens so baie uit. Jy sien, as jy in die binne-skrum van die lewe speel, sien jy net gedeeltelik. Dit is onmoontlik om die hele spel met een blik raak te vat. Maar die afrigter wat daar op die paviljoen sit, sien ’n baie beter prentjie van die spel. Hy ken elke speler. Hy ken die game plan. Hy sien selfs die opponente en wat hulle planne is.
Halftyd moet ’n mens aan sy lippe hang. Elke woord moet ingedrink word, want soveel wysheid vloei daaruit. By hom of haar kan ’n mens so baie leer van die foute wat in die eerste helfte gemaak is en hoe die wyse van spel in die tweede helfte aangepas moet word.
Jy sal dom wees om nie by die afrigter te leer nie.
So plaas die Here baie afrigters op ons pad by wie ons kan leer. Baie keer is dit ons lewensmaats. Maar ai, hoekom is dit so moeilik om vir hom of haar ruimte te gee om vir ons te leer. Eers skop ons mos daarteen en sê dit is nie so nie en ons staan op ons punt. Soms staan ons so vas op ons punt dat dit oorgaan in ’n woeste geveg, maar as ons rustig gaan stilsit, besef ons dat hy of sy eintlik ’n punt beet het.
Ons kan onsself baie pyn en lyding spaar as ons besef ons het so baie by mekaar te leer. Met so ’n houding sal wysheid lank voor die grysheid kom. Laat ons oop wees om by mekaar te leer. Gee ruimte en tyd vir mekaar en wysheid sal vanself in ons opstaan.
Hou jou oë oop en soek die afrigters wat God op jou pad plaas.
Wysheid is om by mekaar te leer.
Teks
Kolossense 3:12-17
Om oor na te dink
Leer jy graag by ander?
Hoe moet jy maak om meer by ander te leer?
Gebed
Vader, ek moet erken dat ek nie altyd vir ander ruimte gee om my te leer nie. Ek besef dat ek baie uitmis en wysheid kortkom. Ek wil graag meer leer. Help my om ruimte te maak sodat ek by ander kan leer. Amen.