Wysheid en nederigheid benodig
Ek bly vêr weg van politiek. Ek lewer nie kommentaar nie, maar ons almal kan sien dat daar in ons land ’n paar departemente is wat uitmekaarval. Die grootste rede, volgens my, is dat daar mense in poste aangestel is wat nie weet hoe om hulle pos te vul, hul skoene vol te staan en hul werk reg te doen nie.
Die Engelsman sê, they were promoted to incompetency. Hulle was dalk bevoeg vir hul posisie, maar nie vir die posisie na hul bevordering nie. Jy sien, ’n mens het wysheid nodig, kennis nodig om die werk reg te doen.
En dit is nie uniek aan ons land se leierskap nie. Die gebeur in alle lande, baie besighede en selfs in die kerk. Partykeer kan ons by sulke mense leer hoe ons nie moet wees nie.
Wie is regtig wys? Wie weet hoe om die reëls van die lewe reg te speel? 13Wie van julle het die lewenswysheid om te verstaan hoe ’n mens die spel van die lewe sinvol en reg moet speel? Laat hy dit wys deur die manier waarop hy hom gedra. Nederig en op sy plek moet hy doen wat God wil hê ’n mens moet doen om sinvol te leef.
’n Mens ken ’n wyse persoon uit na aanleiding van sy gedrag. Sy manier van die lewe leef, is reg. Hulle neem ander in ag en maak die wêreld ’n beter plek vir almal wat met hulle in aanraking kom.
Hulle tree met wysheid op en die meeste van die kere met die ander in die oog. Wysheid kom nie in ’n egosentriese persoon voor nie. Inteendeel, ’n persoon wat net aan sy behoeftes dink, doen hom of haarself op die lang duur in.
Dalk maak die persoon nou in die afsienbare toekoms ’n paar rand, maar op die lang duur sit hy gou alleen, sonder dat iemand met hom of haar iets uit te waai wil hê.
Die verstandige persoon word deur nog iets geken en dit is nederigheid. As ’n mens nie dit het nie, raak ’n mens se kop te top heavy en val jy gou om wanneer ’n storm dreig.
’n Nederige persoon ken sy plek. Hy weet waar om voor te loop, maar hy weet ook waar om die eer vir God en ander te gee. ’n Nederige persoon sal nooit die eer net vir homself neem nie, maar uitdeel aan almal wat dit nodig het.
Ons land het baie sulke mense nodig. Ons wêreld het baie sulke mense nodig en baie keer vra ons die vraag, maar wat kan ek nou eintlik doen? Ja, ons elkeen kan seker nie so ’n groot verskil maak nie, maar al is ons net ’n druppel in die emmer, kan ’n klomp druppels die emmer vol maak en ’n rêrige verskil maak.
Maak seker dat jy weet wat wysheid is. Gaan bestudeer nederigheid en maak beide deel van jou mondering. As ons almal net ’n stukkie hiervan kan regkry, sal die wêreld vir seker anders lyk. Wysheid en nederigheid.
Teks
Jakobus 3:13-18
Om oor na te dink
Is jy wys genoeg?
Hoe lyk jou nederigheid?
Sien ander dit in jou manier van lewe raak?
Gebed
Vader, ek het hope wysheid nodig om elke dag ongeskonde uit die lewe te stap. Help my om nederig te wees en help my dat ander dit in my lewe sal raaksien en ook so wil en sal lewe. In Jesus se Naam. Amen.