“You really so different.”
(Soos jy seker agterkom, word die Kruispad e-posse baie laat afgelaai. Die bestaande stelsel se wiel het einde verlede jaar afgekom. Ons gaan binnekort gebruik maak van Everlytic se stuurstelsel. Ons hou jou op hoogte.)
Heike vertel hierdie kosbare storie:
Ek herwin my vullis by my huis en dan sit ek dit elke Woensdagoggend pligsgetrou buite om opgetel te word. Elke Woensdag kom ‘n man en vat alles wat hy kan gebruik, sonder dat hy veel hoef te grou.
Hy maak dan sommer my dromme leeg en sit dit netjies voor my garage-deur sodat ek dit weer kan invat.
Vanoggend toe ek my dromme gaan haal, wag daar tot my verbasing ‘n oulike nota op my drom van die man om my te bedank vir my samewerking en om my seënwense toe te wens.
Kyk, dit het my dag gemaak om te weet ek kan deur so ‘n klein dingetjie en ‘n vriendelike môregroet, ‘n verskil in iemand se lewe maak.
Dankie Vader, dat ek altyd na U stem kan luister vir leiding. Hou my altyd nederig en pligsgetrou.
Die briefie lui soos volg:
Every Wednesday is my x-mass, because I get a lot from your bin, which I sell to get food.
When you wake early to put out your bin so that I can survive. It really means a lot to me.
Your great work will not only by remembered on earth but also rewarded in heaven.
Thank you again. Thank you really.
You really so different.
Kind regards
Mxolisi
Sjoe, wat ’n wonderlike getuienis. Eintlik so ’n klein daad, maar tog so ’n groot impak op iemand anders se lewe.
Dit is presies wat ons wat kinders van God is eintlik altyd moet doen. Ons moet plekkies soek waar ons goed kan doen. Ons moet die betroubare en veilige mense wees as ander in nood is. Mense moet weet dat ons die doen-mense is. Ander moet ons ken as die mense wat meer doen as wat daar van ons verwag word.
Soos die getuienis van Filemon se lewe: 21Filemon, ek vertrou jy sal doen wat ek jou vra; daarom dat ek hierdie brief aan jou skryf. Eintlik weet ek dat jy nog baie meer sal doen as wat ek van jou vra.
Mag dit waar wees van my lewe. Mag dit waar wees van jou lewe. Mag ander ook van ons sê: “You really so different”.
Teks
Filemon 1:21-22
Om oor na te dink
Doen jy meer as wat verwag word?
Waar kan jy nog iets doen?
Is jy anders as ander?
Gebed
Here, U doen so baie vir my. Ek is so bevoorreg om ’n God soos U te hê. En tog besef ek dat ek nie genoeg doen nie. Nie omdat ek moet nie, maar omdat ek nie anders kan nie. Help my om die plekkies raak te sien waar U wil hê ek ’n inspraak in ander se lewens moet maak. Amen.